Gedagte vir die dag: Beloning vir dienswerk

God-sentrum-van-my-leweLees: Jesaja 58:6-12

As jy jou wy aan dié wat honger het, as jy voorsien in die behoeftes van dié wat in nood is, sal die lig vir jou skyn wanneer dit donker is, sal wat vir jou nag is, word soos die helder middag. (Jesaja 58:10)

Aan die einde van die jaar word werknemers gewoonlik deur hulle werkgewers beloon vir die diens wat hulle in die jaar wat verby is, gelewer het. Waarskynlik het jy self gesorg dat die mense wat vir jou werk vakansiebonusse ontvang het. God sien ook die dinge raak wat ons vir Hom doen en Hy sal ons beloon indien ons in die jaar wat verby is, sy getroue diensknegte was.

God verwag van jou om diens in sy koninkryk te verrig. Wat hierdie diens behels, verduidelik die profeet Jesaja in Jesaja 58. Dit is God se wil dat ons sy koninkryk sal uitbrei deur in die behoeftes te voorsien van mense wat in nood is: Deur vir mense wat honger is kos te gee, vir dié wat sonder klere is van klere te voorsien en vir die dakloses blyplek te gee. Indien jy gewillig is om hierdie opdrag te gehoorsaam, onderneem God op sy beurt om in jou behoeftes te voorsien. Dan kan jy die pragtige belofte in Jesaja 58:11 vir jou neem: “Die Here sal jou altyd deur lei; selfs in dor streke sal Hy in jou behoeftes voorsien. Hy sal jou sterk maak. Jy sal wees soos ’n tuin met volop water, soos ’n fontein waarvan die water nie opdroog nie.”

Is jy gewillig om jou diens vir God aan te bied? Kyk dan om jou waar daar nood is en help!

Hemelse Vader, ek is jammer dat ek nog so langtand is om diens in u koninkryk te verrig. Wys my waar U my hulp nodig het en maak my gewillig om ander te help. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.