Gedagte vir die dag: Bemoedig mekaar

Natures-Valley-Boekevat-Foto-Melanie-Schlenter.jpeg

Foto: Melanie Schlenter

Lees: 2 Korintiërs 1:3-7

God is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee. In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons weer ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig. (2 Korintiërs 1:3-4)

Hedendaagse mense is so besig met hulle eie dinge dat ons dikwels nie Paulus se opdrag dat Christene mekaar moet bemoedig, nakom nie. In ons kompleks het daar ’n jong ma met ’n vier jarige tweeling met ’n gestremdheid ingetrek in ’n huis byna reg oor ons s’n. Sy moes die dogtertjies oral ronddra. Ek wou nog my hulp gaan aanbied, maar ek was so besig met sperdatums dat ek nooit sover gekom het nie. Twee maande later het sy my kom groet en vertel dat sy teruggaan Namibië toe. Toe was dit te laat om na haar uit te reik. Ek voel steeds sleg daaroor.

Laat staan vir ’n rukkie die onpersoonlike elektroniese media waartoe baie ouer persone in elk geval nie toegang het nie, en gaan bemoedig iemand wat jy ken (of dalk juis nie ken nie!) met ’n geestelike sowel as ’n fi sieke gawe. Gelowiges moenie net vir mekaar bid nie, maar aan mekaar se deure gaan klop en hoor waar ons kan help; tyd by mekaar deurbring. Miskien ’n boek of ’n bos blomme neem vir iemand met ’n omgeeboodskap. Want wanneer ’n mens hartseer of eensaam is, is daar niks wat soveel troos bring as die besoek van ’n gelowige vriend wat jou met ’n omgeedrukkie kom versterk nie. Miskien ontdek jy nog dat jy die persoon is wat bemoedig word eerder as jou teikenpersoon.

Here, vergewe my my besigbly met my eie dinge en my versuim om ander Christene wat swaarkry te bemoedig soos U elke dag met my doen. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.