Gedagte vir die dag: Berge kan padgee

Stroom_Berg_Reint_Dykema.jpg

Foto: Reint Dykema

Berge kan padgee, heuwels kan wankel, maar my liefde vir jou sal nooit verdwyn nie, my vredeverbond met jou sal nooit wankel nie, sê die Here wat jou liefhet. (Jesaja 54:10)

Al tref rampe jou, al verloor jy jou kar, jou huis, jou werk en jou dier­baarste geliefde, God het jou nie verlaat nie. Klink dit onmoontlik? ’n God van liefde behoort tog sy kind teen verlies en smart te beskerm? vra jy. Hy kan mos nie toelaat dat sy lieflike kinders verkrag en vermoor word nie? Ons sal in al ons menslikheid ons kinders met ons lewe beskerm; God noem ons sy kinders, maar Hy laat sulke goed toe?

Het jy al ’n berg sien inmekaarstort, ’n heuwel sien platval – die einde van die wêreld ervaar? Was jy al soos Jesus van God verlate? God belowe ons dat Hy ons juis in ons pyn en smart nie sal verlaat nie. Nou is die seer nog te rou, die angs te werklik. Maar eendag sal jy – soos die man in die verhaal wat al­tyd saam met God geloop het – op die strand staan en terugkyk. Jy sal sien dat daar soms net een ry spore is en onthou dat dit juis in die tye was toe jy so swaargekry het dat God jou in sy arms gedra het.

Jou probleem is ’n gegewe. Jy is in die moeilikheid, miskien is dit selfs jou eie skuld. Miskien het jy dit vir jouself op die hals gehaal, deur iets soos hu­weliksontrou of geldgierigheid. Die skrywer van die Hebreërbrief moedig jou aan om tevrede te wees met wat jy het, want ‘God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” Daarom kan [jy] met ver­troue sê: “Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie, wat kan ’n mens aan my doen?”’ (Heb 13:5–6).

Dankie, Here, dat U my liefhet ten spyte van my ongeloof, my angs en my sonde, en dat U my nooit sal verlaat nie.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Manda ·

Baie dankie Maroela media vir die positiewe dagstuk uit God se Woord. Sy Woord bly altyd nuut en opbeurend.
God seën.
Manda

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.