Gedagte vir die dag: Beskerm deur gebed

God-sentrum-van-my-lewe

Argieffoto.

Ons weet goed dat God nie na sondaars luister nie, maar as iemand godvresend is en sy wil uitvoer, luister God na só ’n persoon. (Johannes 9:31)

Op ons plaas het ons die gewoonte om die dag af te skop met Zoeloe-gesange, voorlesing uit God se heilige Skrif en gebed voordat ons begin werk. Eendag, nadat ons daarmee klaar was, het my seun ’n paar van die werkers gestuur om met ’n vragmotor boupale te gaan haal by ’n nabygeleë plantasie.

In die vragmotor was die bestuurder, twee tienermeisies en een helper. Toe hulle by ’n steil heuwel afry, het die bestuurder egter beheer oor die voertuig verloor. Die vragmotor het bergaf gerol en is so erg beskadig dat dit later afgeskryf moes word.

Een van ons jong veewagters het ’n halfuur nadat ons klaar gebid het met sy fiets aangery gekom en onbedaarlik gehuil. Hy het gesê: “Daar was ’n vreeslike ongeluk. Die vragmotor het gerol.” Hy was nie seker of enigiemand die ongeluk oorleef het nie.

Ek en my seun het in ’n ander voertuig gespring en dadelik na die toneel gery. Terwyl ons by die heuwel afry, het ek tot God begin bid: “Asseblief, Here … ” Die vragmotor was ’n totale wrak aan die voet van die berg.

Wonderbaarlik is niemand dood nie. Een van die meisies het haar arm gebreek, en die passasier wat langs die bestuurder gesit het, het ’n effense rugbesering opgedoen, waarvan hy volkome herstel het. Die bestuurder het ’n nekbesering opgedoen, maar die dokters glo hy sal piekfyn wees. Die ander jong meisie het nie eens ’n skrapie opgedoen nie.

Die jong veewagter wat die ongeluk aangemeld het, het my daaraan herinner dat ons vroeër daardie oggend tyd in gebed deurgebring het. Hy het vas geglo dat die Here Jesus Christus al vier die mense in die voertuig beskerm het. Ja, ons mag voorwaar nooit die krag van gebed onderskat nie.

Here God, dankie vir die krag van gebed om lewens te verander, om ons geliefdes te beskerm, om te troos en te bemoedig. Dankie vir u magtige hand oor ons. Mag ek nooit die belangrikheid en krag van gebed miskyk nie. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.