Gedagte vir die dag: Betekenis

Stiltetyd koringveld-pexels-pixabay

Foto: Pexels/Pixabay.com

Lees Galasiërs 6:7-10

Wat ’n mens saai, dit sal hy ook oes. (Galasiërs 6:7)

Logies, nè? Wat jy insit, kry jy uit. Daar is ’n oorsaaklike verband tussen hoe jy lewe en wat uiteindelik van jou word. Boontjie kry sy loontjie.

Dit is wel effens teenstrydig met daardie ander stuk “volkslogika” wat ongeveer só lui: Wat help dit jy verset jou teen die noodlot? Dit is nutteloos om teen die prikkels te skop. Wat sal gebeur, sal gebeur …

Maar daar is sekerlik heelwat oor laasgenoemde lewenshouding te sê. Die beoefenaars daarvan reken dalk dat dit hulle van heelwat ellende vrywaar. ’n Versekeringspolis teen teleurgestelde verwagtings, onverwagte slegte nuus.

Wat kan ek tog daaraan doen? sug die slagoffers dan. Ek moet maar berus, dit is al wat ek kan doen.

Behalwe dat dit nié al is wat jy kan doen nie. Jy kan ook op ’n ander manier probeer voorsorg tref: deur so vroeg moontlik in jou lewe noukeurig te let op wat jy in jou lewe saai, en waar. Dit is die saak wat Paulus hier aanroer. En, interessant genoeg, hy gee ook ’n duidelike leidraad: “Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie … aan almal … veral aan ons medegelowiges” (v. 9-10).

Sien, gelatenheid word gou-gou beswaardheid, en laasgenoemde se sinoniem is “swartgalligheid” – en dan is die dood in die pot. Paulus se medisyne is: Saai op die Gees se akker, en oes uiteindelik oorvloedig.

Vir almal wat hulle aan gelatenheid oorgegee het, het die apostel hierdie raad: Jy het ’n groter sê oor jou lewe as wat jy dink. Leer net so gou moontlik om van jouself af weg te kyk. Sien jou medemens raak – en beleef dán hoe groot en ryk die oes is!

Here, U en my medemens gee sin aan my lewe. Dankie vir U, dankie vir hulle.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.