Gedagte vir die dag: Dis beter om te volhard as om uit te hou

hardloop_sonsopkoms_natuur_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: Pixabay.com

Nie dat ek dit alles al bereik het, of al klaar volmaak is nie. Maar ek hou aan jaag om dit myne te maak omdat Christus Jesus my Sýne gemaak het! (Filippense 3:12)

Ek en my vrou het onlangs na ’n epiese stryd tussen twee tennisspelers gekyk. Hulle het naby die wêreldrekord vir die langste tennisfinaal gekom deur meer as vyf uur op die baan te bly. Ek is aangeraak deur die twee mans se volharding – veral as jy die talle ure wat hulle geoefen het in ag neem.

Volharding gaan daaroor om met ’n handelwyse aan te hou, ten spyte van die moeilikhede en die feit dat daar maar min tekens van onmiddellike sukses is. Wat is dit wat jy najaag in jou lewe? Dit kan dalk wees om ’n liefdevolle huweliksmaat te word, ’n suksesvolle student, ’n verantwoordelike burger van jou land of ’n jong persoon wie se ouers trots kan wees op jou. Wat dit ook al is, ons moet volhard en ons doelwitte najaag.

“Volharding is die vermoë om op te staan ten tyde van swaarkry; volharding is die vermoë om ten spyte daarvan vooruitgang te maak,” sê die evangelis Jerry Bridges. Ek glo regtig God wil hê ons as Christene moet eerder volhard as om bloot uit te hou.

In die tenniswedstryd het die een speler voortdurend die spel na sy opponent geneem terwyl die ander speler eenvoudig “uitgehou” het. Hy het verdedigend gespeel en was soms omtrent twee meter agter die agterlyn terwyl sy opponent vorentoe beweeg het. Die gevolg was dat sy opponent gewen het.

In al die jare wat ek die Here dien, het ek gesien dat dié wat ernstig oor die Here is, dié is wat enduit volhard. As gelowiges moet ons volhard. Ons moet elke dag die gesindheid hê dat ons sukses sal behaal. As ons positiewe burgers wil bly, sal ons ons moue moet oprol en aan die werk spring!

Liewe hemelse Vader, dankie dat ek na U kan kom en my drome met U kan deel, met die wete dat U die beste plan vir my lewe het. Ek weet dat ek my doelwit sal kan bereik met u hulp. Help my asseblief om te volhard totdat ek bereik het wat ek wou. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.