Gedagte vir die dag: Bewaar jou hart

 Hart_teken_sand_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe. (Spreuke 4:23)

Die drie dinge deur die geskiedenis wat die meeste manne tot ’n val gebring het, is roem, rande en rokke.

Die Bybel verduidelik in Spreuke 4 dat ons soos gewapende soldate by ’n uitkykpunt moet wag staan en begin aanval en alarm maak as enige van hierdie verkeerde gedagtes, gesindhede of gewoontes ons harte wil infiltreer.

Roem verwys daarna as jy té belangrik probeer wees en uiteindelik hoogmoedig raak en neersien op ander. Jy dink konstant aan hoe onnosel of onbekwaam ander mense om jou is. Jy raak behep met jou eie sukses en jou eie koninkryk.

Rande beteken dat die liefde vir geld jou lewe vernietig. Jy raak inhalig, jy wil net meer en meer geld maak al moet jy soms die reëls breek. Jy kan dit nie oor jou hart kry om van jou geld weg te gee nie. Jy spandeer die meeste van jou geld om ander te beïndruk. Jy vrees dikwels dat jy al jou geld gaan verloor.

Rokke verwys daarna dat jy in jou gedagtes of leefstyl ontrou raak aan jou vrou. Jy begin ontevrede raak met jou eie vrou omdat sy jou nie altyd kan gee wat jy wil hê nie. Jy wend jou tot pornografie en begin afsydig raak teenoor jou vrou en jy sien skielik net al haar foute raak. Jy begin agterkom hoe vriendelik en oulik ’n ander vrou/sekretaresse/kollega/vriendin is. Jy begin verskonings maak om skielik meer tyd by daardie persoon deur te bring.

Die oplossings? Bewaar jou hart soos ’n goeie soldaat. Sien die vyand as hy nog vêr is en laat toe dat die Here die middelpunt van jou lewe is. Vind jou vreugde in dit wat die Here vir jou afgemeet het.

Here, hier is my hele lewe. Verwyder asseblief enigiets uit my lewe wat skeiding tussen U en my wil bring en laat my raaksien hoe geseënd ek is om u kind te kan wees. Amen

Bron:
Manne van die Woord deur Jannie Pelser
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Magdalena ·

Uit my ? uit BAIE DANKIE vir Elke dag se dagstukkie.
Dis my padkos vir die dag……
God is Groot en Asemrowend….wat ‘n voorreg om van God in Afrikaans te lees….? Duisende dankies Maroela media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.