Gedagte vir die dag: Bewoners van die hemel

wolke_berg_see_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Hebreërs 1:6-14

Van watter engel het Hy ooit gesê: ‘Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het’? Is hulle dan nie almal geeste in diens van God, wat Hy uitstuur om dié te dien wat die saligheid gaan beërf nie? (Hebreërs 1:13-14)

Daar is al baie boeke oor engele geskryf. In die naslaanbron Die Bybellennium word berig dat engele ’n belangrike rol gespeel het in die denkwêreld van die eerste eeu. Mense uit ’n Joodse agtergrond het geglo dat engele ’n rol gespeel het in die skepping en in die oordra van God se wet aan die mens. Engele was volgens hulle in beheer van natuurkragte en het die lotgevalle van mense en volke bepaal.

Die engele se belangrikste werk is om God te loof. In Johannes se gesig van die hemel in Openbaring 5:11 sien hy rondom God se troon miljoene der miljoene engele wat sy lof besing. Verder gebruik God engele om Hom te dien en sy boodskappe op aarde af te lewer. In die Ou Testament beloof God dikwels om sy engel voor mense uit te stuur om hulle op die pad te beskerm. Dit was ’n engel wat die leeus se bekke toegesluit het sodat Daniël veilig uit die leeukuil kon stap. ’n Engel het vir Maria vertel dat sy ’n Seun gaan hê wat die Messias is. Ook Sagaria, die pa van Johannes die Doper, se boodskap oor die geboorte van ’n seun is deur ’n engel afgelewer. Maria Magdalena het twee engele in die graf gesien nadat Jesus opgestaan het.

Engele is dus besondere wesens, maar een feit staan steeds soos ’n paal bo water in die Bybel: Jesus is self God, baie magtiger en heerliker as enige engel.

Here, dankie vir engele wat U dien en wat my beskerm. Maar ek loof U omdat ek weet dat U nog véél groter en belangriker is as enige engel.

Bron:

Leef in Sy lig deur Nina Smit
Uitgewer: Struik
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Michelle ·

Het engele baie nodig in my lewe. dankie Here dat U magtiger is as engele en mense op aarde. Amen

Corné ·

Psalm 94:11-12

Hy sal Sy engele opdrag gee
om jou te beskerm waar jy ook al gaan.
Op hulle hande sal hulle jou dra,
sodat jy nie jou voet teen ‘n klip sal stamp nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.