Luister na my gebed, Here, gee tog ag op my smeekgebed. Op die dag van my nood roep ek na U, U sal my gebed verhoor. U is getrou teenoor dié wat na U roep om hulp. (Ps 86:6-7, 5)
In hierdie psalm smeek die psalmdigter God om hulp omdat hy in groot ellende verkeer. Hy roep na God met die vaste vertroue dat God sy gebed sal verhoor en hom sal help, want Hy is getrou. God wek vertroue by sy kinders omdat Hy Hom telkens in die verlede bewys het as ’n God wat kan red en help. Om hierdie rede kan jy ook in tye van beproewing met vertroue by die Here om hulp gaan aanklop. Hy sal na jou gebed luister en dit verhoor; Hy sal sy getrouheid ook aan jou betoon deur jou te help.
Bid gerus as jy weer deur versoekings en beproewings geteister word. As jy naby aan God bly, sal Hy self toesien dat jy nie bo jou kragte versoek word nie, en sal Hy vir jou uitkoms gee uit elke beproewing.
Ten slotte getuig die psalmdigter oor wat die Here vir hom gedoen het. Hy vra die Here om van hom ’n voorbeeld van sy goedheid te maak (vgl. v. 17). Sorg dat jy ook teenoor ander van die Here se goedheid in jou lewe bly getuig.
Hemelse Vader, ek loof U dat U altyd help wanneer daar beproewings en versoekings in my eie lewe opduik. Dankie dat ek tot U kan bid en kan weet dat U na my luister en my gebede verhoor. Amen
Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy
Die opskrif is Bybels verkeerd. Dit moet eerder lees: Bid sonder ophou – 1 Tesselonisense 5:17
Ek stem saam BID SONDER OPHOU Nie net in swaar tye nie