Bid saam vir gelowiges in Mianmar

‘n Toneel van die daaglikse lewe op Mianmar se strate in Christene gebied waar daar heelwat minder infrastruktuur beskikbaar is. (Foto: Geopende Deure.)

“Die moeilikheid vir nuwe gelowiges begin eers werklik wanneer hulle oor Jesus begin praat.” – Charley*, ’n Geopende Deure-werker

Om van die Boeddhistiese erfenis van Mianmar af te wyk word met agterdog beskou en kan potensieel gevaarlik wees.

“ʼn Radikale Boeddhistiese beweging Ma Ba Tha het dit op hulle geneem om Boeddhisme te ‘beskerm’ as die land se nasionale godsdiens. Om die geloof van jou stam te versaak, word as verraad gesien en kan lei tot isolasie in die samelewing of huisarres,” het Jan Gouws, uitvoerende direkteur van Geopende Deure gesê.

Dit is dan ook waarom Mianmar tans 19 op Geopende Deure se 2020-wêreldwaarnemingslys lê. Die lys meet die vlakke van vervolging van Christene wêreldwyd.

Volgens die organisasie, wat talle projekte aanpak om vervolgde gelowiges te ondersteun, word gebiede met ’n hoë persentasie Christene in die land in Suidoos-Asië opsetlik benadeel deur swak infrastruktuur en gesondheidsorg.

Die gevolg is dat die meeste Christene baie arm is, veral in landelike gebiede. Hulle word onderrig en werksgeleenthede geweier. In sommige gemeenskappe waar Boeddhisme oorheers, word Christene nie in ag geneem in besluite of vir hulpbronne nie. Sommiges het selfs nie toegang tot water nie. Christen-kinders ervaar diskriminasie deur onderwysers en afknouery van ander kinders. Christene word geteister, gedreig en uit hul tuistes geforseer.

In sommige plekke het radikale Boeddhistiese monnike ook kerkeiendomme aangeval en Boeddhistiese altare op kerkterreine gebou.

Getuienis

 “Die beste ding is om die veranderde lewens van mense te sien wat aan Christus toegewyd word – om siele te wen. Dit bring groot genot in my lewe – ʼn vreugde wat ek nie ten volle kan verwoord nie,” het Tun*, ’n pastoor van landelike Mianmar, onlangs aan Geopende Deure gesê.

Tun en sy Christelike gemeenskap het al erge diskriminasie vir hul geloof ervaar. Hulle word as buitestanders beskou en word vertel dat hulle die “Christen-virus” dra. Tog, te midde hiervan, bly Tun sy kerk dien en sê hy dat hy daarvan hou om ’n pastoor te wees.

*Name is verander vir veiligheidsredes

Bid vir Mianmar

  • Bid saam met die kerk in Mianmar namate hulle voortgaan om die lig van Christus in hul gemeenskappe te wees.
  • Bid dat diegene in armoede vergenoegdheid in Jesus sal hê en dat hul lewens ’n kragtige getuie sal wees vir hul families en gemeenskap.
  • Christen-bekeerlinge ervaar baie druk om hul geloof te versaak. Bid saam met dié gelowiges vir dapperheid te midde van vervolging.

Jan Gouws, uitvoerende direkteur van Geopende Deure, het weer by Maroela Media se ateljee kom kuier en nog twee aangrypende getuienisse van Christene uit Mianmar gedeel. Luister na die volledige gesprek bo-aan hierdie berig om die ware verhale te hoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.