Gedagte vir die dag: Bid vir ander mense

gebed

Foto: Argief.

Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. (Efesiërs 1:18-19)

Wanneer laas het jy vir ander gelowiges se geestelike groei gebid? Paulus doen hier ’n gebed vir sy medegelowiges en hy pleit in besonder vir hulle geestelike lewe. Hy vra dat hulle sal besef watter voorreg dit is om in Christus vrygespreek te word – hy wil graag hê Christene moet weet watter hoop dit bied. Hy bid sy medegelowiges sal weet watter erfenis vir hulle bestem is en dat geen swaarkry hulle van stryk bring nie. Laastens versoek hy dat hulle die geweldige grootsheid van God sal begryp. Hy kan berge versit, ook in jou lewe.

Ons bid maklik en dikwels vir onsself, maar staan ons tyd af om vir ander mense te bid – voorbidding vir hulle te doen wat alle fasette van hulle lewe dek, soos Paulus hier doen? ’n Interessante feit wat my diep oor gebed laat nadink het en ’n heel nuwe perspektief daarop gegee het, is dat Job, met wie dit so vreeslik swaar gegaan het, se omstandighede positief verander het nadat hy vir sy vriende begin bid het. Jesus sê ons moet ons naaste liefhê. Ek dink dit impliseer vir seker ook dat ons opreg vir ander moet bid. Die lewe en Christenskap gaan beslis nie net oor onsself en ons behoeftes nie, ons moet medegelowiges se geestelike laste help dra. Ek glo in die krag van gebed. In Jakobus staan daar dat die gebed van ʼn gelowige kragtig is en dat ons nie ontvang nie omrede ons nie bid nie.

Stormie Omartian wat al talle boek oor gebed geskryf het, sê: “Wanneer dit moeilik raak om iemand lief te hê, bid vir hulle. Voor jy jou kan kry, sal jy met God se oë na hulle kyk en sy liefde sal jou hart in oorvloed vul.” Ek wil jou uitdaag om vandag vir ander mense te begin bid, ook dié van wie jy minder hou. Dalk lewer dit verrassende resultate op.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

René Erwee ·

Baie dankie vir God se woord oor gebed – pragtig uiteengesit

Elize Colton ·

Amen. Dankie, vir pragtige boodskap.
Ongelukkig kan ons hierdie korter weergawe nie deel op groepe nie.

Nogtans, baie dankie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.