Bid vir die Christene in Noord-Korea hierdie Kersfees

Noord-Korea hou vanjaar weereens die berugte titel vir die land waar Christene die ergste vir hul geloof vervolg word. (Foto: Verskaf)

Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys vir vervolgde Christene lys sedert 2002 vir Noord-Korea as die moeilikste land vir Christene om in te leef.

Hier word Christene as vyande van die staat geag omdat hulle dit waag om in ’n hoër outoriteit te glo as die Kim-familie, wat absolute trou en gehoorsaamheid vereis. Die Kim-familie word verafgod. Foto’s van die Kim-familie moet in alle huise en skole opgehang word, en die eerste woorde wat ouers hul kinders moet leer, is: “Dankie, Vader Kim Il-sung.”

Indien Christene ontdek word, word hulle na arbeidskampe gestuur as politiese misdadigers of selfs summier doodgemaak. Hul families ontvang dieselfde straf. Weens hierdie rede deel die meeste Christene nie hul geloof met hul kinders totdat hulle ouer tieners is nie, uit vrees dat hulle iets sal kwytraak.

Getuienis:

Volgens ʼn Christen in Noord-Korea is alles in die winter daar gevries en boonop is daar bitter min om te eet.

“Behalwe vir dit, moet ons addisionele belastings betaal. Dit sluit fooie in ten bate van nasionale konstruksie en die weermag, asook ’n patriotiese kosinsamelingsfooi, ten spyte daarvan dat die regering te min rantsoene gee. Die mense in ons provinsie ly erg honger. Die meeste mense is ondervoed.

“Boonop kan ons nie ons stowe vir hitte gebruik nie, want daar is geen vuurmaakhout nie.”

Sonder die ondersteuning van Geopende Deure en hulle getroue vennote sal baie Christene in Noord-Korea van die honger omkom.

Mense bring hulde aan voormalige leiers Kim II Sung (links) en Kim Jong II by hul standbeelde op Mansu-heuwel ter herdenking van die “Dag van die son” in Pyongyang in Noord-Korea. (Foto: Cha Song Ho, AP)

Bid vir Noord-Korea:

  • Bid vir die beskerming van Christene wat deur die staat vervolg word en hul nie-Christelike familie, vriende en bure.
  • Bid vir krag en moed onder Christene wat swaarkry in tronke, arbeidskampe en afgeleë gebiede.
  • Bid dat God die ondergrondse Kerk in Noord-Korea sal voorberei om ’n lig in die land te wees – en dat hulle gereed sal wees om spoedig die Evangelie sonder beperkings te verkondig.

 Geopende Deure se werk in Noord-Korea:

Geopende Deure se werk behels noodleniging (kos, medisyne, klere, ens.) aan vervolgde gelowiges, die verspreiding van boeke en ander Christelike materiaal, opleiding deur radio-uitsendings, asook opleiding en opleidingsmateriaal aan Noord-Koreaanse gelowiges deur ons netwerke in China.

Besoek Geopende Deure hier vir meer inligting oor hoe om hulle werksaamhede in die land te ondersteun.

  • Luister na Jan Gouws se spesiale Kersboodskap en vertellinge oor die vervolgde Christene in die Asiatiese land waar net 1,2% van die land Christene is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.