Gedagte vir die dag: Bid vir jou gesin

Vrou_strand_stiltetyd_lees-Bybel_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Die vurige gebed van ’n regverdige het groot krag. (Jakobus 5:16)

Soos ’n huis sonder ’n dak. Dít is hoe ’n gesin lyk wanneer ouers nalaat om vir hulle kinders en hulle huwelik te bid. Die vyand loop immers rond soos ’n brullende leeu op soek na geleenthede en plekke in ons lewe om ons aan te val en te verslind.

Waarvoor kan – of behoort – ons as ouers vir ons kinders te bid? Ons kan bid vir die regte vriende. Ons kan bid dat God hulle met wysheid sal vul om goeie besluite in uitdagende situasies te neem. Ons kan bid vir sy guns oor hulle en ’n duidelike visie vir hulle lewe.

God het ons kinders geskep en Hy het ’n spesifieke doel met hulle lewe hier op aarde. Ons as ouers is gekies om ons kinders te help deur aan hulle rigting en leiding te gee. En juis hieroor sal ons rekenskap moet gee. En wat bid ons vir ons huwelik? Vir eenheid. Waar daar eenheid is, leef mense in harmonie en ervaar hulle oorvloedige seën uit God se Hand. Ons kan vir God vra vir wysheid sodat ons in mekaar se lewe kan belê.

’n Gesonde, gebalanseerde huwelik skep gesonde, selfstandige kinders. Kom ons sit die dak op ons huis deur elke dag vir ons kinders en ons huwelik te bid.

Vader-God, beskerm my kinders en my huwelik. Vul my met wysheid sodat ek sal weet hoe om in my gesin tot eer van u Naam te leef. Amen.

Bron:
Dagstukkies vir besige vroue deur Christelle Webb-Joubert
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Esme van dyk ·

Here ons kom tesame bid vir ons kinders dra hul aan U op vir verhoudings wat gebreek is vir U leiding Amen

Hannelie ·

AMEN ! Here ons bid ook vir ons ouers, die wat ons nog gespaar is. Seën ons kinders, ons bid vir hul om die regte keuses te maak ten opsigte van vriende en toekomsbesluite. Ook vir ons as ouers, dat ons U voorbeeld sal volg om goeie ouers vir ons kinders te wees.

Netso ·

Here Jesus Christus, vergewe ons kleingelowiges! Dankie vir alles wat ons het en Seën Suid Afrika en sy leiers vandag ! AMEN

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.