Gedagte vir die dag: Bid

bid_oggendson_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Eenmaal was Jesus êrens besig om te bid. Toe Hy klaar was, het een van sy dissipels na Hom toe gekom en gesê: “Here, leer ons om te bid, net soos Johannes sy dissipels geleer het.” (Lukas 11:1)

God het deernis met ’n gebrek aan ervaring en onsekerheid as dit by gebed kom. Hy leer ons graag hoe om tot die Vader te nader. Ons word uitgenooi om na Hom toe te kom in aanbidding. Ons kan al ons behoeftes vir Hom bring en om hulp vra. Ons kan om vergifnis vra en ook vra vir ’n hart vol genade teenoor ander. Ons kan op sy krag staatmaak om sonde en die duiwel te weerstaan.

Staan vandag saam in gebed. Loof God vir sy majesteit, sy heiligheid en die verlossing deur Jesus. Bring al julle behoeftes en bekommernisse na Hom toe. Bely julle sondes. Vra vir sy genade om almal lief te hê. Vra vir sy bevryding van die vyand se slinkse planne en sy pogings om julle tot ’n val te bring.

Besluit om saam as ’n paartjie te bid, want “waar twee of drie bymekaar is, is Ek immers ook saam met hulle daar”. (Matteus 18:20) Wanneer julle weg van mekaar af is, hou aan om mekaar in gebed aan God op te dra. Laat die Here julle nader aan Hom en mekaar bring namate julle groei in gebed.

Here, ons het u leiding oor gebed nodig. Dankie dat U ons aanbidding ontvang, ons sondes vergewe en in al ons behoeftes voorsien. Mag ons U al meer leer ken terwyl ons U in gebed aanroep. Amen.

Bron:
Mnr & Mev – 366 oordenkings vir egpare deur Rob & Joanna Teigen
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.