Gedagte vir die dag: Bietjies-bietjies

noordsee.jpgVertrou op die HERE! Wees sterk en skep moed! Ja, vertrou op die HERE! (Psalm 27:14)

Partymaal voel ’n taak of ’n projek net té groot. Ander kere voel ’n wag- of hersteltydperk weer net té onmoontlik lank … die eindpunt eindeloos vêr …

Miskien moet jy vandag inspirasie put uit die onmoontlike taak wat Vasti Geldenhuys en Riaan Manser aangepak het deur alleen van Marokko tot by New York te roei. Ses maande lank was hulle twee alleen op die see: 10 765 km op ’n 6,9 m boot deur tot 6 m hoë deinings! Hulle moes elkeen 1,8 miljoen hale roei om die ondenkbare uitdaging te oorkom.

Ja, sê Vasti, daar was baie dae wat sy wou opgee, wat sy nie kans gesien het om weer te roei nie, wat die eentonigheid jou mal wou maak. Maar dan … het hulle maar net aangehou. Uiteindelik hét hulle New York bereik en was die beloning en bevrediging onverwoordbaar groot! Toe joernaliste haar vra hoe hulle dit reggekry het, was haar antwoord: “Every oar stroke helps! Elke bietjie help. Mense dink: Ag, dis té lank, dis té min, eet die tjoklit al is ek op ’n dieet … Ek het nou geleer: Elke bietjie help!”

Liewe mens, roei vandag die stukkie wat jy vandág kan doen. Môre sal jy weer krag kry vir môre. En oormôre. Moenie moed opgee nie. Jy kán mos!

Vader, help my om een dag op ’n slag te leef. Stukkie vir stukkie te doen wat ek moet. En dan met vrede te leef.

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Santie ·

Vader help my om vandag in Gees en waarheid te leef, en nie bekommerd wees oor more nie. Amen

Welna ·

Jesus, help my vandag om nie na my berg wat ek moet oorsteek van bo af te bekyk en elke rots, graspol en kloof op my pad raak te sien nie, maar om my oe op U gerig te hou en die berg van onder af treetjie-vir-treetjie oor te steek. Dankie vir die versekering dat U my sal dra oor die rotse en klowe wat te groot is vir my. Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.