Gedagte vir die dag: Binne God se wil

vrou_arms_uitgestrek_sonsondergang_see.png

Foto: onestoneaway.com

Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies. (Matteus 10:29–30)

God sorg vir klein voëltjies – vir al die soorte mossies – die Kaapse man­netjie met sy swart gesiggie en opvallende wit C teen die kant van sy kop en sy grou wyfietjie wat op jou grasperk rondspring. Hy sorg ook vir die klein grysetjies van Parys in Frankryk wat in swerms op kafees toesak en so mak is dat hulle koekkrummels langs jou teekoppie oppik.

God sorg vir die pragtige Janfrederikkies wat klokslag etenstyd saam met geelbekspreeus by is om die katte se pilletjies uit hul kosbakke te gaps, ook vir die grys duiwe wat hulle verwilder en oorneem. Hy hoor die kiewiete wat saans verbyvlieg nes toe en die uil wat soms in die middel van die nag op ons dak kom sit. Hy sorg so goed vir hulle, nie een van hulle sal uit die lug val sonder sy wil nie.

Waarom sal Hy nie vir jou ook sorg en jou lewe spaar nie?

Jesus verstaan ons oorlewingstryd, ons bekommernis oor die dag van môre, die angste en vrese wat ons beetpak as ons sien wat in die wêreld om ons aangaan en wat alles met ander mense gebeur.

Ongelukke en siekte is nie al nie – jy kan in jou huis oorval word en in jou slaap vermoor word. Die dood skuil in al sy vermommings waar jy jou ook al bevind. Jesus wys ons daarop dat ons nie nodig het om bang te wees as ons bly glo nie, die liggaam vergaan, maar die siel sal bly voortleef. Glo in Hom, leer by Hom; Hy hou jou lewe hier en in die hiernamaals in sy hande.

Here Jesus, dankie dat ons niks hoef te vrees nie.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Linda ·

Dankie Liewe Vader, ons hoef oor niks besorg te wees nie. Amen

Tiekie Maré ·

Jesus het vir ons Sy Alles gegee, hoekom sal Hy ons nou op ons Eie Los? Glo VERTROU EN LAAT ONS LIG SKYN. Dankie Vader.

Christine ·

Dankie Jesus, dat U ook vir ons sorg soos vir elke blommetjie wat u klee en en sorg vir elke voeljie van die veld. Mense verander maar Jesus nooit.!

Lienkie ·

Prys die Here!!! Lief vir u Jesus en dankie vir al U genade

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.