Gedagte vir die dag: Ons geloof maak ons blind vir menslike vooroordele

mense_stap_strand_skulpe_NathanSteyn.jpg

Foto: Nathan Steyn

In hierdie nuwe lewe is daar nie langer sprake van Griek of Jood, besny of onbesny, ongekultiveerd, barbaars, slaaf of vry man nie. Al wat saak maak, is Christus wat alles in elkeen is. (Kolossense 3:1)

’n Onderwyseres vertel my dat sy op ’n dag ’n gesprek gehad het met skoliere oor hoe hulle met hulle huiswerkers praat en hulle behandel. Toe sy vir hulle vra of hulle steeds die ou Afrikaanse reël volg om hulle ook as oom en tannie aan te spreek, was die meeste kinders uit die veld geslaan. Deurlopend het die meeste dit nie gedoen nie. Hulle is sommer net op hulle name aangespreek, maar wit mense is ge-oom en ge-tannie. Een dogter het egter die mooi opmerking gemaak dat hulle hul tuiswerker as “ma Anna” aanspreek, wat ’n gepaste vorm van eerbetoon in Afrika is. Toe vra die juffrou of die huiswerkers dieselfde kos as die gesin eet. Dit was ook nie orals die geval nie. Brood en pap is steeds werkerskos in ’n klompie huise. “Wat dan van Bybelse beginsels?” wou die juffrou weet. Hoe word die Bybel dan toegepas in mense se huise?

Geld daar ander reëls vir huismense as vir werkers wanneer dit by kos, aanspreekvorme en respek kom? Paulus leer vir ons in Efesiërs 2:11-20 dat alle gelowiges gelyk is. In Christus is die skeidsmure tussen mense afgebreek. Nou is daar nie meer man of vrou, slaaf of vry, Jood of nie-Jood nie, vertel die apostel in Galasiërs 3 en in Kolossense 3. Nee, hier die is nie politiek nie, dis sommer net die ABC van die evangelie! Wanneer ons mense voortrek op grond van hulle status, mis ons die punt.

Wanneer ons verskillende beginsels en reëls in plek het vir mense van verskillende rasse mis ons die evangelie met ’n myl. Dan kort ons ’n goeie dosis naasteliefde, soos wat die Bybel ons leer.

Bron:
Blydskap wat bly deur Stephan Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.