Gedagte vir die dag: Blom waar jy geplant is

hand-blomme-stiltetyd.jpg

Foto: klimkin/pixabay

Hy het my mond ʼn skerp swaard gemaak, my in die skaduwee van sy hand verberg, hy het my ʼn skerp pyl gemaak en my in sy pylkoker weggesteek.”  (Jesaja 49:2 – AFR83)

Die Here het jou alreeds van voor jou geboorte af geroep vir sy spesifieke doel vir jou hier op aarde.  Hy het jou menswees oorvloedig geseën met oneindig baie talente uniek aan jouself.  Daar is geen enkele persoon wat is soos jy, of ooit weer sal wees soos jy, op hierdie aarde nie. Net so eiesoortig as die mens wat jy is, is jou doel hier op aarde ook.

Jy is met soveel wonderlike gawes geseën waarmee jy eer aan die Vader kan bring. Daardie talente en gawes is nie net vir jouself bedoel nie, maar ook om die lewens van almal om jou aan te raak en aan te vul.  Ons Godgegewe lewenstaak hier op aarde sal altyd tot eer en verheerliking van die Vader wees.

Om hierdie Godgegewe doel vir ons lewe te vervul, verg gehoorsaamheid en sensitiwiteit vir die stem van die Heilige Gees.  Waar die Here toevoeg aan ons lewe, kom dit sonder enige kommer, maar soms wil ons ons eie kop volg en dinge ryp druk, wat dan op die ou einde soveel moeilikheid en probleme in ons lewe kan veroorsaak.

Wag op die Here, want Hy sal sy wil in jou in jou lewe laat geskied, solank as wat jy gehoorsaam, gewillig en gereed is. Hy sal jou beskerm teen die gevare van die lewe en elke bose plan van die vyand. Op die bestemde tyd sal dit tot vervulling kom wat Hy alreeds voor die grondlegging van die aarde vir jou uitgesit het.

Moet nooit ʼn geleentheid om te leer by jou laat verbygaan nie, rus jouself voortdurend toe met meer kennis en vaardighede, mediteer op die Woord van die Here dag en nag.

Blom net daar waar jy geplant is, want jy is daar geplant om die roem van die Here te vermeerder!

Geskryf deur Alta Strauss
Facebook | Instagram | E-pos

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.