Gedagte vir die dag: Bly hoop

Paternoster_vissers_boot_see_strand_Sune.jpg

Foto: Suné van Heerden

Ek het gedink dit is klaar met my en met my hoop op die Here. Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie. (Klaagl 3:18, 21-22)

Lees Klaagliedere 3:18-33

Wanneer Jeremia amper geen hoop meer oor het nie, onthou hy dat God se ontferming teenoor sy kinders eindeloos is, dat sy trou groot is en dat Hy goed is vir wie op Hom bly hoop. Om hierdie rede kry Jeremia dit reg om te bly hoop.

God se kinders kan met groot vrymoedigheid aan hulle hoop vashou. God is almagtig en volkome in beheer, al ruk jou lewensomstandighede soms handuit. Selfs al het jy op die oomblik geen hoop meer oor nie, kan jy steeds aan God vashou en jou hoop aan Hom vas knoop. Hy belowe vir jou ’n heerlikheid wat vir altyd sal bly, ’n hemel waar daar vir altyd ’n einde sal wees aan alle seerkry en pyn.

Christene weet dat daar eendag ’n hemel op hulle wag. As jou hoop op die oomblik maar min is, wil ek graag vir jou Paulus se pragtige gebed aan die gemeente in Rome saamgee: “Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!” (Rom. 15:13).

Hemelse Vader, ek loof U dat U dit vir my moontlik maak om op U te bly hoop, in alle omstandighede. Maak asseblief my hoop elke dag sterker deur die krag van u Gees. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.