Gedagte vir die dag: Bly in jou voertuig

sonsopkoms_vrou_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ek stuur julle soos weerlose skape onder die wolwe in. Wees dan waaksaam soos die slange, maar terselfdertyd opreg soos die duiwe. (Matteus 10:16)

Gestel ’n vrou word verkrag. Haar aanvaller word skuldig bevind, gevonnis en tronk toe gestuur, want die wet is daar om onskuldige mense te beskerm. Wonderbaarlik genoeg kry die vrou dit oor haar hart om haar verkragter in die tronk te gaan besoek. Sy vergewe die man vir die afgryslike daad wat hy aan haar gedoen het. Moet die man nou uit die tronk vrygelaat word? Verseker nie. Moet sy hom ooit weer vertrou of haarself op enige manier, fisies of emosioneel, kwesbaar maak teenoor hom? Beslis nie! Kan sy hom oorgee in die hande van die lewende God van volmaakte geregtigheid? O ja.

Jy moet dalk byna daagliks daardie soort hartsberekeninge doen, dalk net op ’n baie kleiner skaal. Jy sal dalk nooit weer die man vertrou wat jou verkul het nie, maar jy kan hom vergewe. Jy sal dalk nooit weer die vriendin wat van jou geskinder het volkome vertrou nie, maar jy kan haar vergewe. Jy kan haar selfs liefhê, haar geselskap geniet, haar hartlik verwelkom en opreg vriendelik teenoor haar wees. Maar wees versigtig.

Hierdie soort verhoudings is amper soos om in die wildtuin te wees. Geniet die prag van die natuur van ’n veilige afstand af. Leef in vrede met die diere. Maar om liefdeswil, bly in jou voertuig.

In watter verhoudings moet jy jou hart bewaar? Hoe kan jy steeds liefde bewys?

Here, gee vir my wysheid om te weet wanneer dit veilig is om my hart oop te maak. Amen

Bron:
Omvou deur genade deur Dalene Reyburn
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Charl ·

Amen! Ons dien ‘n God van Liefde. Daarom moet ons liefde betoon. Dis nie altyd maklik nie. Die woorde makliker gesê as gedaan. Sterkte aan elkeen wat iemand moet vryspreek en vergewe. Mag God jul opreg help en bewaar.

Loretta ·

Dagse geliefdes,dis waar jy kan nie meer almal rondom jou vertrou nie,want jy weet nie wie is jou beste vriend nie,vertrou altyd op die Here die Almagtige Hemelse Vader! Geseende Naweek!!

J ·

Waaksaam, nugter wees.. ens. Dankie Here vir wysheid, sintuie en U Heilige Gees wat ons met elke asemteug kan vertrou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.