Gedagte vir die dag: Bly koersvas

God-sentrum-van-my-lewe

Argieffoto.

Moenie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie tou opgooi nie, sal ons op die regte tyd oes. (Galasiërs 6:9)

God sal almal gebruik wat bereid is om op koers te bly, die wedloop te voltooi, nooit hulle visie te laat vaar nie en hulle droom aan te hou droom. As ons na die geskiedenis kyk, sal ons sien dat God nie altyd die beste mense gebruik nie – Hy gebruik mense wat beskikbaar is.

Toe Hy vir Moses gesê het om die Israeliete uit Egipte te bevry, het Moses gekla dat hy nie goed kon praat nie omdat hy gehakkel het. God het hom hiermee gehelp (Eksodus 3). Ook het Jesus vir Petrus, ’n ongeskoolde visserman, gebruik om die kerk te lei nadat Christus ná sy opstanding opgevaar het hemel toe (Johannes 21:15-19).

Sommige van die suksesvolste mense wat ek nog ooit ontmoet het, het nie noodwendig universiteitsgrade nie. Hulle is gedissiplineerde mense wat soggens vroeg opstaan en hard werk, wat nie terugstaan of ontmoedig raak nie. Ons gaan deur moeilike tye in die wêreld en ons moet net eenvoudig aanhou en uithou. Ons moet op koers bly, ons bes doen en die res aan God oorlaat.

Vandag se Bybelvers is een van my gunstelinge in die Bybel: Ons sal beloon word as ons nie moed verloor nie, sê die Here. Ons moet ons standaarde hoog hou, almal menswaardig en regverdig behandel en lei deur voor te loop. Ek sien ontsaglike moontlikhede – en die wonderlike geleenthede wat jy het om ’n verskil in jou land te maak. Gaan uit en maak ’n verskil, maak nie saak hoe nietig dit dalk lyk nie.

Dit is waar geloof ’n rol speel. Hebreërs 11:1 sê: “Geloof is ’n vaste versekering dat die dinge waarna ons uitsien, inderdaad sal gebeur. Dit is die bewys dat God die dinge wat ons nog nie kan sien nie, waar sal maak.” Geloof het voete – dit is ’n doen-woord.

Liewe Here, soms raak ek neerslagtig as ek kyk hoe dit in die wêreld gaan. Help my om koersvas te bly en ’n verskil te maak in die wêreld om my. Selfs al lyk my bydrae nietig, weet ek dat ek dit vir U doen. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JC ·

Moenie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie tou opgooi nie, sal ons op die regte tyd oes. (Galasiërs 6:9)
DANKIE!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.