Lees: Jesaja 30:18-21
Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ’n stem hoor sê: “Hier is die pad, loop hierlangs.” (Jesaja 30:21)
Skaaptroppe trap soms diep vore teen die heuwels uit omdat hulle geneig is om elke dag dieselfde pad te volg. En baie keer is daardie pad die verkeerde een. Omdat mense nogal baie na skape aard en ook daarvan hou om hulle eie koppe te volg, eerder as om gehoorsaam aan die Herder te wees, beland ons by tye op gevaarlike afdraaipaadjies. Soos God se volk van ouds is ons dan baie gou om na God om hulp te roep. Gelukkig luister ons Herder altyd na ons. Selfs wanneer ons ongehoorsaam is en van Hom wegdwaal, beloof die Herder om ons weer na die regte pad terug te lei. Die profeet Jesaja skryf hieroor: “Die Here is gretig om julle genadig te wees en wil Hy hom oor julle ontferm. Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ’n stem hoor sê: ‘Hier is die pad, loop hierlangs’” (Jesaja 30:18, 21).
Indien jy op die oomblik besef dat jy te ver weg van jou Herder weggedwaal het, kan jy maar net na Hom roep. Hy wag reeds om jou genadig te wees, Hy sal hoor wanneer jy na Hom roep om hulp en jou gebed verhoor sodra Hy dit hoor. Hy het jou maar net ’n rukkie honger en dors laat ly omdat Hy jou wou leer om vir die res van jou lewe digby Hom te bly.
Here, ek beland so maklik op afdraaipaadjies. Hou my asseblief vir die res van my lewe digby U. Dankie dat U elke keer bereid is om my genadig te wees as ek na U roep om hulp. Amen.
Baie dankie vir die pragtige Woord vanoggend; dit is so lekker om te weet ons dien ‘n ware, opgestane God wat ons nie een oomblik uit Sy hand laat gaan nie. Dit is ons wat wegdwaal. As ons dit eers besef, kan ons net roep, en God antwoord. Dankie Jesus, ek loof U!
Dankie Here dat U genade ook vir my genoeg is. Ek los hierdie doring in my vlees nou by u voete. Die bloed sal dit daar wegspoel! Dankie Here!
Die tye in my lewe waar dit baie goed gegaan het was nog altyd naby aan die Here.
Dankie vir die donker tye in my lewe, nou weet ek om naby U te bly. By U is ek veilig my Here.