Gedagte vir die dag: Bly staande wanneer mense verander

Wolke_wederkoms_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Van Bo af kom net goeie, ja, volmaakte gawes. Hulle kom van die Vader wat die hemelligte geskep het. Anders as die hemelligte, staan Hy onbeweeglik vas. Selfs sy skaduwee verskuif nie soos hulle s’n nie. (Jakobus 1:17)

Mense verander. Dis niks nuuts nie en dit behoort jou nie te verras nie. Nogtans was jy waarskynlik al seergemaak of geskok of kwaad oor hoe iemand weens omstandighede, ouderdom of ’n leefstylkeuse verander het. Jy het dalk gehoop en vertrou dat die verandering positief sou wees – en mettertyd beter sou word – maar jy is teleurgestel.

Omhels die waarheid dat God nooit verander nie, en terwyl mense verander en dalk ook nou anders oor jou voel, is God se liefde vir jou konstant. Vind jou sekuriteit en geborgenheid in Hom en nie in die onrealistiese verwagting dat jou verhoudings altyd stabiel sal wees of dat die karakters van die mense om jou nie op skadelike maniere sal verander nie.

Skep moed uit die waarheid dat namate jy gelykvormig word aan Christus, jy al hoe meer die stabiliteit van sy karakter sal aanneem.

Hoe kan jy vandag besluit om die persoon wie se vreemde veranderinge jou seergemaak het, onwrikbaar lief te hê?

Here, dankie dat ek nooit hoef te wonder hoe U oor my voel nie. Verander my deur u genade sodat ek dieselfde barmhartigheid aan ander kan bewys wat ek self so nodig het. Amen

Bron:
Omvou deur genade deur Dalene Reyburn
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Koos ·

Sal die goeie goed van bo nou die tornados en tsoenamies insluit?

Cobus ·

Ja dit sal want Hy sal saam met jou daardeur gaan – dis nou te se as jy Syne is.

Vrede ·

Ek staan aan die ander kant. My veranderinge het heelwat mense die rug laat draai, maar steeds staan Hy by my. My Rots, my Redder, my vriend en vertroueling.

Koos ·

Cobus die wat die tornado’s en tsoenamies oorleef het – sal vir jou kan getuig dit is beslis nie goed nie. Dis nou te se as jy dit sal verstaan.

Cobus ·

Weereens hang dit van jou pad saam met God af. As jy Hom ken en iemand aan die dood afgestaan het wat Syne was dan weet ons hy/sy is op ‘n baie beter plek en treur ons eintlik oor ons eie verlies aan daardie persoon.

Indien God nie geken is nie is daar net algehele verlies sonder hulp of hoop. Omdat wedergeborenes ‘n nuwe skepping en Geesgevuld is, maak die Gees vir die natuurlike mens geen sin nie en dis iets wat ‘n ongeredde glad nie sal of kan verstaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.