Gedagte vir die dag: Bly staande

woestyn_droe_veld_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Epafras bid altyd ernstig vir julle dat julle as volwasse gelowiges met volle oortuiging in alles die wil van God sal bly doen. (Kolossense 4:12)

Epafras, wat instrumenteel was om die evangelie na Kolosse te bring, word hier deur Paulus beskryf as ’n mededienskneg en getroue bedienaar van Christus, een wat uitdruklik geprys word vir sy volharding in gebed vir die gemeente van Kolosse. Sy getroue intersessie vir hulle in sy afwesigheid spreek van toewyding, karakter en diepgaande begrip van die krag van gebed, want deur gebed word gevegte gewen, waarheid gevestig, genesing bewerk en beskerming gevind.

Epafras het die gemeente gereeld na God se genadetroon gebring, hul geestelike volwassenheid sy eerste prioriteit. Hy was bewus daarvan dat vals leringe die kerk binnegedring en die jong kudde bedreig het, en hy was diep besorg dat hulle moes staande bly in Christus. Paulus wil dus met hierdie brief wys dat Christus die Hoof van die kerk is, die oorsprong daarvan, die eerste in alle dinge.

Wanneer ons met dwaalleringe te doen kry wat verwarring saai en dreig om die eenheid in ons gemeentes te vernietig, mag ons so diep in Christus gewortel wees dat niemand ons Christelike oortuigings sal kan laat wankel nie! Met ons geloof geanker en ons vrug oorvloedig, mag ons wandel standvastig en ons vertroue in Christus onwankelbaar wees.

Here, ek staan vas in my geloof, maar net deur u genade. Anker en beskerm my asseblief dat ek nie my balans sal verloor en val nie, maar immuun sal wees teen versoekings en leuens. Amen

Bron: In vreugde en vertroue deur Suria Scholtz
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.