Gedagte vir die dag: Blydskap in die môre!

Hemelvaart_Opstanding_Stiltetyd.jpg

Foto: christianheadlines.com

Die vroue was verskrik en het hulle gesigte afgebuig grond toe. Die mans sê vir hulle: “Waarom soek julle die lewende tussen die lyke? Hy is nie meer hier nie, maar is opgewek.” (Lukas 24:5, 6)

Vir Jesus se volgelinge was die dag van sy kruisiging nie ʼn goeie Vrydag nie. Inteendeel, dit was ʼn hartseer dag. Hulle geliefde Meester het aan ʼn kruis gesterf. Die Saterdag was ʼn donker dag. Die dag van terugskou en die dag waarop die werklikheid eers behoorlik ingeskop het. Watter teleurstelling! Waarheen nou?

Die Sondagmôre gaan ʼn aantal vroue met swaar harte na sy graf. Hulle wou ʼn laaste eer aan Hom betoon. Maar tot hulle verbasing en ontsteltenis was die graf oop en leeg. Die liggaam was nie daar nie. Toe staan daar ewe skielik twee mans met blink klere by hulle. Verskrik het hulle neergebuig. Die twee mans het vir hulle die beste nuus gehad wat enigeen op daardie Sondagmôre kon kry: Jesus is nie hier nie, Hy het uit die dood opgestaan!

So ongelooflik was die goeie nuus dat die dissipels dit nie wou glo nie; hulle het dit selfs as onsin afgemaak. Die goeie nuus is egter by herhaling bevestig, deur Jesus self bevestig met sy verskyning aan die dissipels.

Die Heer het waarlik opgestaan! Jesus leef, en ons met Hom! Halleluja!

Bron:
By waters van rus deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Agnes ·

Die Heer het waarlik opgestaan en waar ek kom of waar ek gaan, my siele sing Haleluja

Lena Jonk ·

Daar was al so baie redenasies oor watter God is waarlik God. Daar by die lee graf is al die bewyse dat ons God het opgestaan Hy is waarlik God en geen ander geloof se God se graf was leeg nie. My God bly my God in wie ek juig en glo

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.