Gedagte vir die dag: Die blydskap van die Here is jou krag

mense_blydskap_woestyn_stiltetyd_pixabay.jp

Foto: pixabay.com

Hy het ook vir hulle gesê: “Gaan eet ’n lekker maaltyd en drink soet drankies. Hierdie is ’n dag wat aan ons God toegewy is. Moenie terneergedruk wees nie, want die blydskap wat die Here gee, sal julle krag wees!” (Nehemia 8:10)

Nehemia het die Israeliete aangespoor om op te hou huil oor hulle sondes en eerder te juig oor die feit dat hulle God se Woord verstaan het en daarop kon reageer.  Wanneer ons na Jesus toe draai, is die tyd vir skaamte en skuldgevoelens verby; die dag van heilige blydskap breek aan.  Hierdie blydskap sal aan ons die krag gee om aan te hou om die Here te volg.

Wanneer ons ons oë op Jesus gerig hou en diep nadink oor alles wat Hy al vir ons gedoen het en vir ons in bewaring hou, vul dit ons met blydskap.  Wanneer ons besef dat ons vergewe is en vrygemaak is van die straf van die sonde, hoe kan ons nié bly wees nie?  Wat ’n verligting om geken te word, om liefgehê te word en om ’n kind van die Koning van alle konings te wees!  Hoe beter ons Hom leer ken en hoe nader ons aan Hom leef, hoe vreugdevoller sal ons wees.

As jou lewe deur skuldgevoelens en neerslagtigheid gekenmerk word, neem hierdie woorde van Nehemia ter harte. As gelowiges hoef ons nie neerslagtig en hartseer te wees nie, want die blydskap wat God aan ons belowe, sal vir ons krag gee – die krag om gehoorsaam te wees, die krag om teenspoed te oorkom, die krag om aan te hou om die goeie stryd van die geloof te stry.  Selfs op dié dae dat ons hartseer is, kan die blydskap oor God se beloftes vir ons die krag gee om aan te hou leef deur te glo.

As God koning is in ons lewe, gaan dit nie om wat ons eet of drink nie; dit gaan daarom dat ons reg sal lewe en die vrede en die blydskap sal vertoon wat die Heilige Gees in ons bewerk. – Romeine 14:17

Bron: In die skadu van die Allerhoogste deur Nancy Taylor & Chris Johnsen
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.