Gedagte vir die dag: Blymoedige Jesus

Stiltetyd-16.jpg

Foto verskaf aan Maroela Media

Toe sê Jesus vir haar: ‘Dit is Ek, Ek wat met jou praat.’ (Johannes 4:26)

Dis Jesus wat die Samaritaanse vrou by die put van Sigar raaksien en na haar toe uitreik. Sy is verbaas dat Hy in haar belangstel en dat Hy meer van haar weet as wat ’n vreemde Joodse reisiger veronderstel is om te weet. Maar Jesus ken haar soos Hy elkeen van ons ken. Hy wil Homself as Verlosser, maar ook as vriend aan ons openbaar.

Hierdie Jesus wat meer as twee-duisend jaar gelede op aarde gewandel het, was mensliewend en vriendelik, ’n gawe mens en ’n goeie vriend. Hy het nie gekla en verwyt nie, maar sy werk blymoedig gedoen en vreugde geput uit die alledaagse dinge wat Hom omring het – voëls en diere, blomme en grasse. Al het Hy geweet wat die uiteinde van sy lewe op aarde sou wees, het Hy vir eers niks daarvan voor sy vriende laat blyk nie.

Vir Hom was die lewe ’n fees. Hy het geëet en gedrink en gelag en gesels, en sy dissipels en volgelinge met verhale vol wysheid en humor verras. Hy het met kinders gespeel en siekes en oues van dae uit hul ellende opgehef. Hy het nie mismoedig geraak toe die mense van sy tuisdorp, Nasaret, hom verstoot het nie, maar sy bediening elders voortgesit en hulle in sy hart met Hom saamgedra. Hy het vreugde geput uit sy werk op aarde. Hy was ’n leier en ’n ware vriend. Hy het mense laat nadink en hulle geleer dat die lewe nie net donker en hartseer is nie, maar lig en vreugdevol.

As jy Jesus, die Man van Nasaret, se vreugde wil uitleef, volg sy voorbeeld.

Dankie, Jesus dat U ons gewys het hoe maklik dit is om tevrede, gelukkig en blymoedig te leef.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.