Gedagte vir die dag: Die boek van die lewe

 Bybel_boek_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Openbaring 3:1-6

Elkeen wat die oorwinning behaal, sal … wit klere dra. Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe uithaal nie, en Ek sal voor my Vader en voor sy engele verklaar dat hy aan My behoort. (Openbaring 3:5)

In hierdie brief word die inwoners van Sardis verseker dat almal wat die sonde oorwin het, wit klere sal dra en dat hulle name nooit uit die ‘boek van die lewe’ uitgehaal sal word nie. Daar word op heelwat plekke in die Bybel melding gemaak van hierdie boek waarin gelowiges se name opgeteken word. Hierdie beeldspraak kom van die gebruik dat elke stad in die tyd toe Jesus geleef het, ’n burgerskapregister gehou het. Mense wie se name in die boek van die lewe aangeteken was, is dus seker dat hulle burgerskap in die hemel gewaarborg is. In Openbaring 17:8 staan daar dat hierdie name reeds ‘van die skepping van die wêreld af ’ in die boek van die lewe opgeskryf is. En in Openbaring 20:15 kry ons die waarskuwing dat, indien daar by die laaste oordeel gevind sal word dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskryf is nie, hy/sy in die vuurpoel gegooi sal word.

Hierdie boek van die lewe is nie ’n letterlike boek nie, maar die benaming wil vir ons sê dat God die name ken van die mense wat aan Hom behoort. Hy ken ons al van voor ons geboorte af. Almal wat in Jesus glo se name is reeds in hierdie ‘boek’ opgeteken. Indien jou naam nog nie daarin is nie, het jy Jesus nog nie as jou Verlosser aangeneem nie. Moenie langer wag om dit te doen nie.

Here Jesus, dankie dat U my naam ken. Ek loof U vir die versekering dat ook my naam as gelowige reeds opgeskryf is in die boek van die lewe. Dit is wonderlik dat hierdie boek my burgerskap van die hemel waarborg.

Bron:
Leef in Sy lig deur Nina Smit
Uitgewer: Struik
Vir meer geestelike artikels besoek Joy!  Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cherokee ·

Paspoorte en visas nie eens nodig maar slegs Geloof om Ewige Burgerskap te waarborg…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.