Gedagte vir die dag:  Boelies

David_Goliat_pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lees 1 Samuel 17:1-23

Maar Dawid sê vir die Filistyn: “Jý kom na my toe met ‘n dolk en ‘n spies en ‘n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het.” (1 Sameul 17:45)

“Ek staan die linies van Israel al heeldag en verkleineer!” (v. 10).

Dawid en Goliat. Dié storie het ikoniese status verwerf, selfs ver anderkant godsdienskringe. Hierdie naamkombinasie het trouens ook deel van die spreekwoordeskat van feitlik elke taal onder die son geword.

Ja, deur die eeue het dié ongelyke stryd mense se verbeelding aangegryp. Meer: Baie is daardeur bemoedig. Soos die fabel van die haas en die skilpad se resies, het Goliat en Dawid se skermutseling nog altyd daarin geslaag om sukkelaars en tweedekommers te troos. Om dié wat daaraan gewoond is om aan die agterste speen te suig, se hoop te laat opvlam: Miskien kan die onmoontlike tog waar word; dalk is dit vandag mý beurt …

In die eerste deel van die verhaal word die toneel netjies geskets, soos dit ’n gesoute verteller betaam: die karakters word aan die leser/luisteraar voorgestel, die gebeure word aan die gang gesit. Almal wat hier lees, weet dit is ’n ongelyke stryd. Ons weet egter ook hoe dit gaan afloop. Daarom sal dit ons loon om noukeurig te lees. Dit is, byvoorbeeld, uit die staanspoor duidelik dat Goliat konfrontasie wil hê. Tipies bullebak soek hy skoor. Aanhoudend.

Hy slaag in sy perverse doel: Almal is doodbang vir hom. Hierdie boelie wat hulle so staan en koggel, jaag die Israelitiese manskappe behoorlik die skrik op die lyf.

Ons wonder nie waarom hulle so verskrik was nie; ons weet. Ons ken die verlamming wat dreigemente bring. Ons weet hoe doel- treffend intimidasie is. Ons het nog altyd vir bullebakkery terug- gedeins. Ons sukkel met boelies. Ons, God se bang kinders, het Hom nog altyd ingeroep om ons gevegte namens ons te veg. Ons kan nie regtig anders nie.

Ek het nie genoeg krag vir hulle wat my verkleineer nie, my Sterkte. Help my!

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here dat U vir ons die padwyser is….U genade is vir ons genoeg

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.