Gedagte vir die dag: Boosheid

 bid-geloftedag.jpg

Argieffoto

Lees Johannes 17:13-19

“Ek bid dat U hulle van die Bose moet bewaar” (Johannes 17:15)

Die tyd het gekom en Hy gaan terug na sy Vader toe. Só sê Jesus in hierdie gebed. Sy werk is feitlik voltooi, sy volgelinge het sy Vader se woord ontvang. Al wat nou oorbly, is dat hulle die waarheid daarvan sal aanvaar en hulle daaraan sal toewy.

Jesus se “verslag” aan sy Vader het een dringende, herhaaldelike versoek: Vader, bewaar hulle van die Bose! Daar is mense en magte en kragte wat dit nie goed met hulle bedoel nie. Bewaar hulle van hierdie boosheid, asseblief!

Jesus het goed geweet hoe ‘n bose aanslag lyk, Hy het dit immers aan eie lyf gevoel. In die stadium dat Hy hierdie gebed gebid het, sou die ergste nog voorlê – en Hy het dit geweet. Daarom sy kommer oor sy volgelinge: As hulle dieselfde paadjie as Ek moet loop, sal hulle dit oorleef? Want boosheid, het Jesus geweet, dra nie ‘n drietandvurk nie en het nie horings en ‘n stert nie. Boosheid skuil dikwels in die binnekring, hou hom daar tuis. Boosheid se gesig skyn soms soos die van ‘n engel van die lig. Daarby lok dit aan, roep dit: Kom na my toe, en ek sal my wêreld met jou deel!

Feilbare mense is nie hierteen opgewasse nie. Hulle het nie die vaardighede om die Bose op sy plek te sit nie. Hulle moet daarteen beskerm word, en deur Een wat die Bose se Baas is. ‘n God wat valsheid kan ontmasker en tot niet maak en sy kwesbare kinders grondig kan troos.

Vader, dankie vir die gebed wat ook vir my gebid is. Ek kom agter hoe U dit elke dag verhoor.

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Von ·

Dankie genadige Vader dat U meer as genoeg is teen die bose. By U skuil ek. Amen

Melléta Louw ·

Om bloot te sê “Die Vader” is genoeg teen die bose is miskien besonder vaag en dalk bloot naiëwe goedgelowige wensdenkery…… dit help nie om in ons alledaagse lewe en op n praktiese manier om die bose te herken en te ontmasker nie. Ons kan baie leer by die Geesteswetenskappe aangaande die gesig van boosheid. Daar waar die leuen is, of sy variante van verdraaiing, halwe waarheid, verswyging, skeeftrek, ens, daar moet jy op jou hoede raak. Die machevelliaanse, narcistiese en psigopatiese persoonlikheidstipes en hul neiging om te lieg, hoe sjarmant ook al, moet verstaan word, sodat dit herken kan word…… jy kan net iets/iemand/ n stelsel beveg as jy dit kan herken en verstaan…..anders speel jy dalk onbewustelik of naiëwelik saam in hul bose magspel.

Maria ·

Amen! vir goeie boodskappe Amen! Von en Amen! Melleta: Dit wat reeds gebeur in die Wereld, die beheer van SATAN leuns

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.