Lees: 2 Korintiërs 4:8-10
Net soos Jesus gely het toe Hy op aarde was, ly ek ook. Die merktekens daarvan is oral aan my lyf te sien. Ja, in my eie liggaam dra ek Christus se lyding en dood heeltyd met my saam. (2 Korintiërs 4:10, Die Boodskap)
In Vreugde-vrou verduidelik Stephan Joubert dat ’n mens se karakter van binne af gevorm word. Die groei van ’n heilige karakter vra toewyding en tyd en gebeur nie oornag nie. Eintlik hou dit lewenslank aan, want karaktervorming is nooit oor en verby nie. Nooit het ek geestelik “gearriveer” nie. Daar is altyd nog ’n geestelike bergspits om te verken. Totdat ek my laaste asem uitblaas, is ek onder voltydse konstruksie van die Hemelse Karaktergroeier. Hy bly lewenslank en intensief met my besig.
Dit is interessant dat die mense wat baie swaargekry het, se karakters meer gevorm is as dié met wie dit nog altyd net goed gegaan het. Want swaarkry leer jou om meer op God te vertrou, dit wys jou dat jy nie sonder God kan klaarkom nie. “Die rede vir struikelblokke, teleurstellings en mislukkings is dat God meer geïnteresseerd is in jou karakter as in jou gemak. Hy wil jou lewe eerder heilig maak as om jou gelukkig te maak,” skryf Rick Warren, aangehaal in Vreugde-vrou.
God gebruik swaarkry in jou lewe om jou te vorm tot die mens wat Hy wil hê dat jy kan wees. As daar dus in die jaar wat voorlê ’n onverwagte stuk swaarkry jou lewe binnekom, verwelkom dit en gebruik dit met die hulp van die Heilige Gees om jou karakter sterker en meer buigsaam te maak.
Here, ek weet dat ek nog onder u konstruksie is. Dankie vir die insig dat swaarkry my karaktergroei versterk. Vorm my totdat ek volkome aanvaarbaar vir U sal wees. Amen.
Maroela Media, Baie dankie dat jul elke oggend om 05hoo vir my Gedagte vir die dag stuur.Sal u dit ook asb vir Louise Coxen stuur na e-pos; [email protected]