“Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.” (Mark 1:17)
Visvang was Petrus en Andreas se taal. Hulle het verstaan hoe dit werk en was goed genoeg daarmee om ’n bestaan daaruit te kon maak. Jesus gebruik die woorde van hulle wêreld om hulle as dissipels te roep. Hy sê: “Julle is goed in wat julle doen. Kom volg My en Ek sal julle selfs beter maak – groter vangste!”
Wat is jóú wêreld? Passer en draaier? Dokter? Onderwyser? Polisieman? Jesus erken jou beroep en jou gawes. Wat Hy vir jou sê, is: “Jy het nie ’n idee wat Ek met jou kan maak nie. Ek kan jou voer na hoogtes wat jy nie eens geweet het bestaan nie. Volg in my voetspore en word deel van die aksie van God se koninkryk.”
Petrus en Andreas sou werklik nooit kon droom dat hulle deel sou kon wees van God se aksies en planne nie. Dalk kan jy dit ook nie droom nie. Jy hoef nie – jy moet net vir Jesus volg.