Gedagte vir die dag: By die altaar

 rots-landskap-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Daarna het Samuel weer na Rama gegaan waar  sy huis was, en ook daar het hy Israel se sake verhoor. Daar het hy ook ’n altaar vir die Here gebou. (1 Samuel 7:17)

Mens kon dié byna raai: waar iemand soos Samuel gewoon het, sou hy ’n altaar vir die Here bou. Vir hom het alles by God en die diens aan God begin en alles het geëindig by God en diens aan God. By die altaar in die tempel waar die “lamp van die Here snags gebrand het”, het hy opgegroei. In sy bed in die heiligdom het die Here met hom gepraat en hom as rigter en profeet aangestel vir sy volk. By die altaar sou hy leef.

Samuel het rondgegaan om reg te spreek in Israel by Bet-El, Gilgal en Mispa. Mense het na hom gekom om hul sake te verhoor. En Samuel het die Here gedien. In hom was daar die seldsame adel van die gees, die gees van ’n opregte man. Die Ierse filosoof Edmund Burke het gepraat van “that sensibility of principle, that chastity of honour … which ennobled whatever it touched … ” dít was in Samuel, die man met wie die Here was.

Dié spesie het nie uitgesterf nie. Ek het in my lewe ’n paar van hulle ontmoet, onder meer ’n boer, ’n man van die aarde, maar ’n fyn “altaar”-gees van eerbare menswees. Sulke mense is nie sonder foute nie, beslis nie, maar dis of hulle waar hulle gaan “altare” oprig. Die lewens wat hulle aanraak, raak bewus van daardie inherente “sensibilty of principle” waarvan Burke praat en waaroor hy treur dat dit so gekorrupteer word.

Dis iets om na te streef: waar ons woon, waar ons gaan, waar ons lewe, waar ons werk. Dat ons mense sal wees wat die “altaar” van God in ons hart dra. Dit sal ons waarskynlik nie “belangrik” maak nie – wat “belangrik” ook al mag wees (!) – maar dit sal sy Gees in ons kans gee om, in Burke se woorde ietwat aangepas, “to ennoble whatever we touch”.

Bron: In die Teenwoordigheid van God deur Izak de Villiers
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.