Gedagte vir die dag: By Hom sal jy vrede vind

water-brug-boot-stiltetyd-stocksnap.jpg

Foto: StockSnap/pixabay.com

Een ding weet ek vas en seker: Niks kan ons ooit van Christus se liefde skei nie. Nie dood of lewe of engele of duiwelse magte nie; nie ons vrees vir vandag of ons kommer oor môre nie; ook nie bo-aardse magte nie. (Romeine 8:38)

Ons het nodig om baie gereeld stil te word. Stil. By ons Vader. Weg van die wêreld se taal, beelde, gebeure, voorbeelde, verwagtinge … weg van die lawaai van die tydelike. Jesus – Seun van God – het dit ook gedoen. Hy – God self – het in ’n tyd toe ons sou dink dat slow-living die norm was, geweet hoe belangrik dit is om gedurig die Waarheid te gaan opsoek.

Dis in stilword waar ons opnuut bewus word van die feit dat niks ons van sy liefde kan skei nie. En wat ons dan beleef dat ons kommer en vrees stilweg verdwyn. En vrede oor ons daal.

Skep élke dag genoeg ruimte in jou dagboek en leefwêreld vir stilword by jou Vader. Dis daar, in die stil ruimte waar jy weer bewus sal word van sy stem wat sê: Jy is Mýne. En dít, my liewe kind, is die heel belangrikste ding in die lewe.

By U is die lewe goed. My perspektief anders. En ek … veilig.

Bron: Krag vir elke dag deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.