Christene in Afghanistan: Wat is regtig aan die gebeur?

Afghanistan is die afgelope jare in die tweede plek op Geopende Deure se wêreldwaarnemingslys van lande waar Christene die ergste vervolg word. Vroue en kinders is veral kwesbaar sedert die Taliban weer in Afghanistan aan bewind gekom het. (Foto: IsaaK Alexandre KaRslian/Unsplash)

Op die aand van 15 Augustus 2021, toe Afghanistan se hoofstad, Kaboel, in die hande van die Taliban geval het, is ʼn dogtertjie êrens in dié stad vir Christen-ouers gebore. Sy het die wêreld binnegekom in ʼn land wat in onrus ervaar, waar Christene en ander godsdienstige minderhede in vrees leef en waar veral vroue en kinders uiters kwesbaar is.

ʼn Mens kan jou nie indink hoe moeilik dit moet wees om nou ʼn ouer in hierdie land met sy sjaria-wetgewing te wees en jou kinders te beskerm nie, en wat die toekoms vir dié klein Christen-babatjie sal inhou nie. Maar haar ouers, Saad* en Fatimah*, voel egter dat die geboorte van hul dogter ʼn teken is dat God nie van hulle of hul land vergeet het nie – en dat Hy te midde van die krisis steeds God is.

Saad en Fatimah is (soos alle Christene in die land) geheime gelowiges wat gekies het om in Kaboel aan te bly ná die oorname deur die Taliban om ʼn lig vir Christus in die land te wees. Hulle en hul medegelowiges verkeer egter elke dag in lewensgevaar omdat die Taliban ʼn lys met alle gelowiges se name daarop sirkuleer.

Die krisis in Afghanistan het die wêreld se aandag opnuut gevestig op die gevaar daarvan om Jesus onder ekstremistiese Islam te volg. Maar Afghanistan is al vir baie jare hoog op Geopende Deure se wêreldwaarnemingslys, en tans die land met die tweede hoogste vlak van vervolging.

Diegene wat Islam prysgee om hul Christelike geloof te volg, word as verraaiers beskou en deur die samelewing, gemeenskap en owerhede (en nou die Taliban) vervolg. Hulle vrees vir hul lewens en moet Christus in die geheim volg. Geen Christelike aktiwiteite, byeenkomste in die openbaar, kerkgeboue, Bybels of ander Christelike literatuur word geduld nie.

Christene in Afghanistan ervaar diskriminasie, verdrukking en gewelddadige vervolging, en het die gebede van ander gelowiges regoor die wêreld nou meer as ooit tevore nodig.

Sewe dinge om voor te bid vir Afghanistan:

  1. Bid vir die wetgewers: Die Taliban het op 24 September verklaar dat die land weer teregstellings gaan uitvoer – insluitende sjaria-strawwe soos amputasie, steniging en geseling. Bid dat die wetgewers en wetstoepassers menslike lewens in die land sal respekteer en beskerm, en dat hulle hul bose optrede sal staak.
  2. Bid vir die verspreiding van inligting in die land: Meer as 100 mediamaatskappye is gedwing om hul werksaamhede te staak. Talle joernaliste het reeds vir hul lewens gevlug, en dié wat gebly het leef in vrees dat hulle die hoogste prys sal betaal vir verslaggewing oor sensitiewe inligting – soos die situasie van vroue. Bid dat Afghanistan nie aan sensuur van nuus onderwerp sal word nie en dat mense steeds toegang tot betroubare inligting sal hê. Bid ook teen vals inligting en die verspreiding van leuens – ʼn groot hoeveelheid fopnuus oor die situasie van vlugtelinge en die ondergrondse kerk word tans op sosiale media en in die buiteland versprei.
  3. Bid vir dié wat honger ly: Met die naderende winter word die haglike situasie vererger vir mense wat ʼn tekort aan kos het. Sedert die Taliban aan bewind gekom het, het die ekonomie basies tot stilstand gekom en voedselpryse die hoogte ingeskiet. Die Wêreldvoedselprogram het onlangs aangekondig dat 93% van die bevolking ʼn tekort aan voedsel ervaar.
  4. Bid vir die siekes: Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê die bekamping van Covid-19 is heeltemal gestaak en die gesondheidstelsel is op die rand van ʼn ineenstorting. Volgens hul verslae loop 90% van die land se gesondheidsorggeriewe die risiko om te sluit.
  5. Bid vir die geheime gelowiges: Bid vir Christene wat verkies het om in die land te bly se veiligheid, sekuriteit, krag om sterk te staan in hul geloof en geleenthede terwyl hulle by die nuwe regering moet aanpas. Bid veral vir beskerming vir vroue en jong meisies, wat besonder kwesbaar is onder die Taliban-regering. Bid vir die seuns dat hulle nie deur die Taliban gewerf sal word nie. Bid dat die Here sy kerk in die land lewend sal hou.
  6. Bid vir dié wat probeer vlug: Talle regerings, nie-regeringsorganisasies en bedienings is betrokke by mense wat uit Afghanistan probeer vlug. Vlugtelinge word deur geweldige risiko’s in die gesig gestaar en is ook dikwels sonder paspoorte.
  7. Bid vir dié wat op die voorgrond werk en die wêreldwye kerk: Geopende Deure se vennote op die voorgrond werk onverpoosd om gelowiges en ander vlugtelinge te help. Bid dat hulle veilig sal wees en toegang tot die regte plekke en mense sal kry. Bid dat God hulle met vrede, liefde, energie, kapasiteit en geloof sal seën. Bid dat die wêreldwye kerk gewillig sal wees om te help.

Hou asseblief aan om vir ons geloofsfamilie in Afghanistan, wat ons nou meer as ooit nodig het, te bid. Klik hier om gereelde gebedsflitse te ontvang wat jou sal toerus om vir die vervolgde kerk in lande soos Afghanistan te bid.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Stiltetyd

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.