Gedagte vir die dag: Ai, Christene oordeel tog so maklik

Storm_boom_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Daarom is daar vir jou geen verontskuldiging nie, vir jou, mens wat ’n ander veroordeel, wie jy ook al is. Deurdat jy oor ’n ander ’n oordeel uitspreek, veroordeel jy jouself, want jy wat veroordeel, doen dieselfde dinge. (Romeine 2:1-3)

Onderhoude wat met nie-Christene in die VSA gevoer is, wys hulle voel Christene is uiters veroordelend. Dit is baie hartseer want Jesus se karakter het juis nie getuig van veroordeling nie. Hy het met tollenaars, melaatses en prostitute gemeng en het niemand wat na Hom toe wou kom ooit verstoot nie. Waarom ons as Christene so krities is en gedurig neig om skerp te oordeel en neer te sien op nie-Christene weet ek nie, want ons staan immers self skuldig voor God. Ons is nie in ’n posisie om te oordeel nie. Dit kom ons nie toe nie, ons moet dit aan God oorlaat, God oordeel regverdig en trek niemand voor nie.

Elke gelowige moet besef dat niemand, geen mens, in die posisie is om hom- of haarself te red nie. Daar is net een manier hoe jy aan die straf van God kan ontkom en die ewige lewe kan kry. Dit is deur volkome op God se genade te vertrou, dit maak nie saak of jy ’n moordenaar of ’n eerlike, hardwerkende landsburger is nie. Sonde moet ons daartoe bring om ons vertroue in Jesus Christus te stel. Hy is die enigste Een wat aan ons die ewige lewe gee. Daar is geen ander manier om van sonde verlos te word as deur Christus nie – en ons het al almal male sonder tal sonde gedoen. Wanneer ons tot dié belangrike besef kom, oordeel ons nie meer so maklik nie.

Ja, soms is dit nodig om iemand daarop te wys dat sy besig is om haar en ander mense se lewe te vernietig omrede sy teen God se wil kies. Wanneer ons dit egter doen moet dit in nederigheid wees, in die wete dat ons self ook baie foute het en in dieselfde slagyster kan trap.

Vra God om jou te help om ander mense te sien soos Hy hulle sien, in liefde en bid dat Hy alle oordeel uit jou hart sal verwyder.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

John ·

Dis presies wat nie-Christene sal se. Waar op deeske aarde loop Christene rond en vertel mense links en regs hulle doen verkeerd. Dis eerder die nie-Christene wat skuldig voel en soek na sondebokke. Dis soos die storie dat net witmense rassiste is. Nou is net Christene die slegte gelowiges.

spykerman ·

John dis van al die bekhou want om te se as iets verkeerd is, maak ons nie christine soos hierbo geinisueer word. Word daar ook nie van ‘n christen verwag om verkeerde dade uit te wys en aan te spreek nie? ja, die oordeel kom ons nie toe nie, maar moenie nalaat om dit uit te wys nie. Dit is ook nie wat van christene verwag word nie.

Nic ·

Sommige “Christenne” veroordeel nie net nie-Christenne nie, maar ook mede Christenne wat nie glo soos hulle glo nie!

Johann ·

Hierdie is die nonsens wat die humanisme bevorder..God het ons ‘n verstand gegee om te oordeel tussen goed en kwaad. Ons mag oordeel tussen goed en kwaad, net nie veroordeel nie. God kan die mees ongelowige red as Hy wil. Hy het dit vir die moordenaar op Golgata gedoen. In God se Woord noem Hy dat ons nie in die selfde juk as die ongelowige moet trek nie. Toe Jesus sy dissipels uitgestuur om die Evangelie te verkondig het hy Hy hulle vermaan om nie tyd te mors in plekke waar die mense nie wou luister nie, Maar hul moes verder gaan want dit sou vir die stede erger wees op die oordeelsdag as vir Sodom en Gamora. (Die ewige verderf) Dit pas in by God se opdrag met hemelvaart om Sy Woord aan alle nasies te verkondig. As dit nie vir Saul was wat nie die Here se opdrag wou uitvoer om al die Amalakiete , oud, jonk man vrou en self die diere,alles, met die banvloek te tref nie, sou Israel en die wereld nie vandag met die probleem gesit het nie, Maar gelukkig God bly in beheer. Hy sal sy kinders beskerm al wou hul nie luister nie.

JohanvdK ·

Dis waar dat ons as Christene nie mag oordeel nie, maar jy moet wel jou broeders en susters teregwys soos wat Matt 18 ons opdrag gee om te doen. Om iemand te oordeel vehoog jy jouself bo iemand anders asof jy geen sondes het nie. Teregwysings is iets heeltemal anders wat jy uit naaste liefde uit moet doen om die spesifieke broeder of suster te help dat hulle nie verlore moet gaan nie.
Om liefdevolle teregwysing te versuim en dit veroorsaak dat mense verlore gaan is hulle bloed aan jou hande ( Esegiel 3:18). Jy moet natuurlik ook self eers tot bekering kom oor ‘n sekere saak voordat jy kan teregwys.

Lizelle ·

Ek stem saam met Johann dat ons reeds deur God die opdrag gekry het om self te oordeel. Ons moet meet en oordeel aan God se Woord. Ons mag wel nie n veroordeling oor iemand uitspreek nie maar ons kan iemand reghelp uit liefde en omdat ons nie wil he dat hul verlore moet gaan nie. Daar is ook natuurlik n verskil tussen Christene wat n lewende verhouding met God het en mense wat n “religious spirit” het en se hul is Christene maar hul lewens wys dit glad nie en dan links en regs mense veroordeel volgens die wet omdat hulle self nog onder die wet is en nie onder die genade nie.

miv ·

Praat van ondervinding, wanneer jy iemand reghelp wat nie gered is nie, is hul vinnig om te sê jy oordeel. Stem saam met Johann en JohanvdK. Kyk maar net hier in Suid-Afrika hoe is die mens se dade wat sonder ons Verlosser God in hul hart en lewe leef – dis afskuwelik en afgryslik – en hierdie dade is wat kommentaar ontlok, veral op sosiale media waar ‘n persoon gehoor kan word. Ongelukkig nie altyd goeie, opbouende kommentaar nie, maar dan kan mens jouself afvra: ‘Loop sadanige persoon hul pad met die Here Jesus Christus?’ Die mens word ook ontsteld om al die wrede en onregverdige nuus te lees en, al is jy ‘n Jesus-kind, spreek hul hulself soms hard en ongenadig teenoor die skuldiges uit, veral waar onskuldige kinders en weerlose oumense en diere betrokke is. Laat ons Jesus-kinders saamstaan en die genade en liefde van Jesus aan ‘n verloregaande wêreld uitleef, met ‘n wag voor die mond! Shalom.

Jaco Breytenbach ·

Daar is niemand op aarde wat meer veroordelend is as gelowige mense nie, of hulle nou Christene of Moslems of wat ook al is, en die ergste is dat hulle mekaar veroordeel, binne gelowe en tussen gelowe, en elkeen dink hy’s reg en gaan na een of ander salige plek toe en veral as hy vir sy geloof opkomof sterf.

Bertus ·

Jaco, dankie vir jou…. sterk (ver)oordelende bydrae? Lyk my dit is die mense wat die hardste skree “Moenie oordeel nie”… wat die meeste (ver) oordeel? Jesus sê nie dat ons nie mag oordeel (onderskei; vermaan; teregwys) nie, maar dat ons ‘n ‘regverdige oordeel’ sal oordeel, sien Joh. 7:24.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.