Christene tydens Paasfees geteiken

2015: 148 sterf
2016: 75 sterf
2017: 72 sterf
2018: …

Dis asof die realiteit van vervolging en die nare verwagting van die ondenkbare, swaar in die lug hang tydens Paasfees in plekke waar Christene nie welkom is nie. Want vir die afgelope drie jaar stroom die nuusberigte in van Christene wat ongenaakbaar aangeval word tydens Paasfees.

2015: Aanval op ʼn universiteit in Kenia, #32 op die 2018 Wêreldwaarnemingslys

Op 2 April 2015 het vier mans van die ekstremistiese Islamitiese groep, Al-Shabaab, die Universiteit van Garissa aangeval en Christene geteiken. Altesaam 148 Christen-studente het gesterf in die aanval.

Die lokaal waarin Christenstudente vroeër byeengekom het om te bid op die dag van die Al-Shabaab-aanval op Garissa in 2015. Foto: Geopende Deure

Ciku Muruiki, ʼn aanbieder op ʼn nasionale radiostasie het ʼn ope brief aan Al-Shabaab gerig. “My hart is seer vir die gesinne wat geliefdes verloor het, maar ek is nie jammer vir die studente wat gesterf het nie. Hulle het ʼn pragtige dood gesterwe,” het sy geskryf. “Ek neem aan julle (Al-Shabaab) het doelbewus gekies om tydens Paasfees aan te val. Dieselfde tyd wat Christus Sy lewe vir ons elkeen neergelê het, ja selfs ook vir julle.”

2016: Bomaanval in ʼn park in Pakistan, #5 op die 2018 Wêreldwaarnemingslys

Pakistanse Christen-gesinne het op 27 Maart 2016 Paassondag in Lahore Park gevier, toe ʼn bom naby aan die ingang ontplof het. Ten minste 75 mense het gesterf, insluitende vroue en kinders, en meer as 300 is beseer.

ʼn Ekstremistiese groep wat bande met die Taliban het, het verantwoordelikheid vir hierdie aanval aanvaar. In 2015, amper presies ʼn jaar vantevore, het selfmoord-bomaanvallers twee kerke in Youhanabad aangeval – 14 mense het gesterf.

Vertroosting tydens ʼn begrafnis van een van die Christene wat gesterf het in die Paasfees-aanval in Lahore, Pakistan. Foto: Geopende Deure

“Ons vier Paasfees met die wete dat ʼn selfmoord-bomaanvaller enige tyd ons diens kan ontwrig en toeslaan,” sê ʼn ma van twee wat voorheen ʼn Moslem was, maar nou Jesus volg.

2017: Twee kerke aangeval in Egipte, #17 op die 2018 Wêreldwaarnemingslys

Verlede jaar, op 9 April 2017, het selfmoord-bomaanvallers van die Islamitiese Staat twee kerke in Egipte tydens hulle Palmsondag-dienste aangeval. Ten minste 44 mense het gesterf en meer as ʼn 100 kerkgangers is beseer.

Enkele weke later is ʼn groep Christene, op pad na ʼn Hemelvaartdiens, aangeval deur gemaskerde, gewapende mans en nadat die Christene geweier het om hulle geloof in Jesus te verloën is 28 mense, insluitende kinders, doodgemaak.

“Ons dissipelskap-opleiding plaas klem op die feit dat vervolging deel is van die Christelike lewe. Ons wil mense help om naby aan die Here te leef, en herinner dat hulle kosbaar is vir die Here, ongeag van wat met hulle gebeur,” sê Arif*, een van Geopende Deure se plaaslike verteenwoordigers in Egipte.

Dit is waar dat Paasfees ʼn gevaarlike tyd is vir Christene wat vervolging verduur.

Maar steeds doof die dreigende gevaar nie hulle liefde en toewyding aan Jesus Christus nie, inteendeel, ons vervolgde broers en susters in Christus kies om eerder hul lewens neer te lê tot eer van Sy Naam – as dit daarop neerkom.

Ons gaan dus 2018 Paasfees in, nie met vrees nie, maar in gebed vir ons vervolgde broers en susters.  Jy kan nou reeds begin om saam met die vervolgde Kerk te bid vir die Here se beskerming hierdie Paastyd. Ook vir krag, dat hulle dapper en onwrikbaar in hul geloof sal bly, en dat die Here se Naam verheerlik sal word, selfs te midde van dood, pyn en verwoesting.

Geopende Deure stel jaarliks ʼn lys saam van die top 50 lande in die wêreld waarin Christene die meeste vervolging ervaar. Kliek hier om ʼn gratis wêreldkaart af te laai wat hierdie lande aandui.  

*Verteenwoordigende name en foto’s gebruik vir sekuriteitsdoeleindes.

Facebook
Twitter
YouTube
Instagram

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.