Christenkinders en -jongmense ly só onder vervolging

Geopende Deure se jeugbediening (Foto: Geopende Deure)

In vandag se wêreld is dit nie maklik vir jongmense en kinders om hulle Christelike geloof uit te leef nie. Vir jong Christene wat in lande woon waar gelowiges vervolg word, is hierdie uitdaging nóg groter. Die bykomende druk van diskriminasie, armoede en aanhoudende vervolging oor hulle geloof in Jesus, het tot gevolg dat baie jongmense hulle geloof heeltemal versaak.

Een van die lande waar kinders en jongmense erg ly onder vervolging is Egipte. Fady, is ʼn jong Christen (nou in sy twintigs) en van ʼn klein dorpie net buite Kaïro afkomstig, en het eerstehandse ervaring van die diskriminasie en probleme wat Christen-jongmense in ʼn Moslemmeerderheid-land in die gesig staar.

Nes baie ander jongmense, moes Fady op ʼn jong ouderdom sy tuisdorp verlaat om werk en geleenthede in die stad te vind om sy gesin te help ondersteun. Die hartseer werklikheid is dat meeste van dié gelowige jongmense nie kans kry om genoeg Bybelkennis op te doen en hulle in hul Christengeloof te grond, voordat hulle die huis moet verlaat nie.

Fady (Foto: Geopende Deure)

“Ek was maar 14 jaar oud toe ek begin werk het, en dit het my weg van God gelok,” verduidelik Fady. “Jy kan die negatiewe invloed van die wêreld op die lewens en geloofstelsels van jong Christene voorstel, wanneer hulle op ‘n vroeë ouderdom blootgestel word aan die wêreld se beginsels wat ver van hul Christelike beginsels af is.”

Verder ervaar Christen-studente en -kinders ook erge diskriminasie wanneer dit kom by onderrig. Christen-kinders word byvoorbeeld gereeld na agter in die klas geskuif en heeltemal deur die onderwyser geïgnoreer wat ʼn negatiewe impak op hulle opvoeding het. By universiteite is dit nie veel beter nie. “Teistering van vroulike Christen-studente word gereeld by baie tersiêre instellings in Egipte aangemeld. Niemand kan met die professore argumenteer nie, aangesien hulle die uiteindelike mag het om ‘n student te slaag of te druip,” verduidelik Fady.

Geopende Deure se jeugbediening fokus daarop om hierdie moeilike pad van hopeloosheid saam met Christen-kinders en -jeugdiges te stap. Hierdie bediening lei hulle na die sekerheid om Jesus te volg en hul lewens op Hom te rig. Dit word gedoen deur middel van ‘n verskeidenheid aktiwiteite soos sportdae, Bybelstudiegeleenthede, universiteitsaksiegroepe, opleiding oor evangelisasie en geestelike jeugkampe. Verder help die bediening ook om kinders te ondersteun met ekstra klasse en onderrig wat hulle vanweë diskriminasie nie by die skool ontvang nie.

Geopende Deure se jeugbediening (Foto: Geopende Deure)

“Die jeugbediening het my vernietigde lewe herstel,” deel Fady. “My karakter is ontwikkel. Ek het besef dat God ‘n wonderlike roeping vir my lewe het!”

Die jeugbediening help om Christen-kinders en jongmense in lande soos Egipte, weer op die regte spoor te kry. Hulle word toegerus om te midde van vervolging vas te hou aan Jesus en só baie ander na Hom te lei.

Jy kan vandag ʼn Geskenk van Hoop gee om meer jongmense soos Fady te ondersteun. Vir slegs R107 kan jy een vervolgde Christen-kind na ʼn vakansie-Bybelskool stuur. Klik hier om Geopende Deure te help om die volgende generasie Christene te versterk!

Volg Geopende Deure op sosiale media:
Facebook
Twitter
YouTube
Instagram

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.