Gedagte vir die dag: Christenskap spel liefde, nie reëls nie

Boekevat-Wortelgat-Berg-ABrits.jpg

Foto: Annelize Brits

Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig. (Matteus 11:28-30)

Ek het lekker gelag toe ek die ander dag lees dat een van die vele Joodse wette bepaal as ’n vrou die kos verbrand dit genoeg rede vir haar man is om van haar te skei. As ’n Jodin sou ek nooit ’n man gekry het nie, want my kookkuns laat veel te wense oor. Die Fariseërs het soveel godsdienstige wette en reëls gehad dat dit met ’n swaar juk vergelyk kon word wat die Jode moes dra. ’n Juk is ’n gewigtige houtharnas wat vir osse gemaak word. Dit word vasgemaak aan die voorwerp wat die osse veronderstel is om te trek. As ’n os ’n juk dra, dan beteken dit dat daar ’n lang dag se werk wag waarin die juk sy skof sal skaaf.

Jesus sê sy juk is sag en sy las lig. Christenskap gaan beslis nie oor ’n string wette en reëls wat nagevolg moet word nie, dit help nie ons probeer op ons eie vermoëns staatmaak om God te dien nie. Christenskap gaan in wese oor ʼn lewende verhouding met God. Die wet van God behels liefde, barmhartigheid en aanvaarding, slegs dan word dit sag en lig.

Soveel mense kom kerk toe want hulle smag na liefde, maar as hulle daar kom, word hulle oorlaai met ’n reeks mens gemaakte wette en reëls oor hoe ’n Christen nou eintlik veronderstel is om te lyk. Ons moet hiervoor versigtig wees. Ons enigste weg na die Vader is deur Jesus. Dit is so eenvoudig dat selfs ’n kind dit kan verstaan.

Hou op spartel en spook om God en mense te probeer beïndruk, kry ʼn opregte hart en vind rus by Jesus se voete. As jy Hom aanneem, maak Hy die storm in jou binneste stil en gee Hy jou ware vrede. God soek na gebroke mense wat hulle in die lig van die kruis ondersoek – stel jou vertroue in God en nie in jouself nie. Moenie geloof ingewikkeld maak nie, wees lief vir God en jou naaste. Geloof in die lewende God spel genade.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Henna Naude ·

Sover en so wyd soos waar daar Christene is, verskil mense se siening. Vir die eerste keer lees ek dat iemand met my saamstem: God sou nooit, ooit ware, egte en opregte Christenskap so moeilik gemaak het dat eenvoudige, ongeletterde mense nie in Hom kan glo nie. Ek wil ook baie graag die beste verhouding met my Skepper beleef maar dit gaan oor groei in Hom. Jy hoef nie in tale te praat nie, jy hoef nie ‘n graad in teologie te besit nie en jy hoef Hom nie te beindruk nie. Maak net seker jy leer ken vir God en Jesus in Sy Woord sodat jy Hom kan herken in jou hart, in mense, in die natuur en in jou drome. Dis hoe Hy praat. Hosanna!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.