Gedagte vir die dag: Christus die enigste wins

sonsopkoms_Uganda_stiltetyd_Marco-Brits.jpg

Foto: Marco Brits (Apoka Safari Lodge, Uganda)

Alhoewel ek hierdie menslike dinge eers as ’n wins beskou het, beskou ek hulle, in die lig van wat Christus vir my gedoen het, nou as ’n verlies. Ja, om Christus Jesus, my Here, persoonlik te ken is só wonderlik dat ek alle ander dinge as ’n verlies beskou. (Filippense 3:7, 8)

Ons het die afgelope maand die lig laat val op die wins van verlies, waarmee ons net bedoel dat omstandighede wat aanvanklik as ’n geweldige verlies ervaar word uiteindelik ’n pluspunt in ons lewe kan raak. Ons lewe word sterk deur die onmiddellike ervarings gereël. Ons raak verblind deur die geweldige impak van slegte omstandighede sodat ons nouliks verder kan dink, wat nog sien!

Paulus dink hier aan die dinge wat in die verlede vir hom baie belangrik was, onder andere sy herkoms en status. Maar al daardie dinge het waardeloos geraak. Daar het ’n nuwe waardesisteem in sy lewe begin realiseer. Christus het die sentrum van sy lewe geword, die vertrekpunt van sy denke en die einddoel van sy lewe. Daarom kan hy met geesdrif verklaar dat om Christus te ken alles in waarde oortref.

Miskien is daar nog te veel goed waaraan ons verknog is, wat ons nie wil verloor nie, en sodoende nog nie die wins van ’n Christusgesentreerde lewe kan ervaar nie. Om Christus al beter te ken, oortref alles in waarde. Dít is die grootste wins denkbaar.

Bron:
By waters van rus deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.