Gedagte vir die dag: Christus, die Woord

Bybel_boek_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

In die begin was die Woord daar, en die Woord was  by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. (Johannes 1:1-3)

Die Jode het geglo dat God nie direk met die wêreld omgaan nie omdat Hy te heilig is, maar dat Hy sy “Woord” of Logos – ’n aparte verskyning van Homself – daarvoor gebruik. Deur sy Logos het Hy die wêreld gemaak en gaan Hy met die wêreld om.

Johannes sluit by hierdie geloof aan, maar hy sê hy ken daardie Logos, hy het met Hom gepraat – trouens, hy het drie jaar saam met Hom geleef! Hy praat van Christus, natuurlik. Hy sê Christus is God se “Woord” wat Hy tot die mens gespreek het. Alles wat God vir ons wou sê, het Hy in Christus gesê! Johannes maak hiermee ’n abstrakte konsep baie konkreet. Vir hom gaan dit nie oor filosofie nie, maar oor ’n persoon – een wat hy persoonlik geken het! Ons moet ook nie te filosofies oor God dink nie, maar prakties. As ons wonder hoe God is, hoef ons nie teoreties te raak nie. Ons kan Hom persoonlik ontmoet. Sy Naam is Jesus!

Onmeetlike God, dankie dat U tot ons ’n Woord gespreek het: Jesus Christus. Dankie dat ons U deur Hom kan ken! Amen.

Bron: Hier is ek, Here deur Jimi le Roux
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

FM ·

Dankie ons Here. U het mens geword en hier tussen ons kom woon. Ons kom wys hoe Liefde lyk. Groot genade.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.