Daai oom met die rooi klere en die baard

Foto: Pixabay

“Dink jy ons moet Kersvader een aand oornooi vir ’n braai?” vra ek vir Mathilda. “Net as hy presente saambring,” sê sy.

Ek is self nie seker of ek en die oom ’n aand sal omkuier nie. Moet my nou nie verkeerd verstaan nie, ek is nie een van daai ouens wat sê Kersvader is boos nie (al verstaan ek nie waarom hy altyd duur geskenke vir die ryk kinders gee en die arm kinders met daai toegedraaide skoenbokse met die tennisbal, die lollipop en die tandeborsel tevrede moet wees nie).

Dalk is dit omdat ek nie mal oor sy klere is nie? My probleem is persoonlik. Ek moes al ’n paar keer “Kersvader speel” op Oukersaand en daai klere werk nie in Afrika in die somer nie.

Voor jy dink ek sien niks goeds in die oom nie, laat ek net dit sê: ek hou van sy baard en lang hare.

Foto: Pixabay

En ek hou van geskenke.

As mens Jungiaans daaroor dink, is Kerksvader ’n interessante argetipe. ’n Oumens waaroor kinders droom. Die vriendelike oom wat altyd presente saambring as hy kom kuier. Die oupa wat graag sy kleinkinders bederf.

Geskenke is ’n goeie idee op Kersfees. ’n Mooi simbool. Veral vir Christene wat Jesus se geboorte op hierdie dag herdenk, want geskenke is iets wat ’n mens gratis kry. As jy dit moes verdien of daarvoor moet betaal, is dit nie ’n geskenk nie. Dis die teenoorgestelde van ’n beloning.

In hierdie wêreld gedryf deur prestasie en kompetisie het simbole van genade ’n belangrike rol te speel.

Foto: Pixabay

Dalk is dit ’n goeie idee om hierdie Kersfees, afgesien van jou eie mense, ook vir ’n vreemdeling ’n geskenk te gee. As Kersfees regtig vir jou oor Jesus gaan, oorweeg dit dalk selfs om ’n geskenk vir ’n vyand te gee. Die mense wat jou genade die minste verdien, het dit gewoonlik die nodigste.

Dalk kan Kersfees ons herinner aan twee van ons grootste roepings op aarde: om vir ander mense lief te wees en om dit vir ander mense maklik te maak om vir jou lief te wees.

Dis lekker om geskenke te kry. Maar Kersfees is veral die tyd wanneer ons iets van die Jesus-beginsel beleef: “om te gee ’n mens gelukkiger maak as om te ontvang” (Hand. 20:35). Want ons is mos eintlik almal Kersvader.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.