Gedagte vir die dag: Daar is niks wat ek kan doen nie

 lighuis_Stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Maar toe het die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir die mens verskyn. Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. (Titus 3:4-5)

So ’n ruk terug vra iemand my om myself ’n punt uit tien te gee waar ek op die “heiligheid- skaal” lê. Ek was bietjie onkant betrap met die vraag en het ook nie die gradering-ding lekker verstaan nie, toe verduidelik hy: “Jy kan vir jouself byvoorbeeld sewe uit tien gee as jy nooit skinder of lelik praat nie. Maar as jy hebsugtig is verloor jy ’n punt of as jy nie daagliks bid nie trek twee punte af …” Iets het verkeerd gevoel. Dit kan mos nie, het ek gedink. God kyk nie so na my nie, dis wetties en in elk geval, ons is verlore sonder God en kan niks doen om ons eie redding te bewerk nie, punt.

Die feit dat die kloof tussen ons en God oorbrug is, is nie ons toedoen nie, maar God s’n. Hy het die inisiatief geneem en uitgereik na ons en sy Seun se lewe gegee sodat ons weer in ’n verhouding met Hom kan staan. Dit alles is genade. Iemand het eenkeer gesê “genade” is die belangrikste woord in die Bybel. As ’n mens besef dat jy deur sy genade vrygespreek is en “erfgename van die ewige lewe” geword het, sal jy jou “op goeie werk toelê”.

Jy wil dus doen wat God wil hê, nie om sodoende sy goedgesindheid te verkry en gered te word nie, maar omdat God jou gered het. As gelowige moet ’n mens weet dat selfs die begeerte om te wil leef soos God wil, nie deur eie toedoen is nie. Dit is die Heilige Gees wat ons hierin toerus.

Jonker Theron het gesê: “Wanneer ’n mens verstaan wat genade van God in Christus is, bring dit jou daartoe om nie net jou sonde nie, maar juis ook jou goeie werke as waardeloos te erken.”

Ja, genade kan nie gesoek of bewerk word nie. Dit is ’n gratis geskenk van die almagtige God aan ons, sy ontspoorde kinders.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Elize ·

Ja dis so waar ek is so dankbaar vir wat die Here vir my elke dag doen en Sy grenade is so Groot dankie

Tessa ·

Ek stem 100% saam met jou! Alles is net Genade! Om jouself ‘n punt toe te ken op die skaal van (skyn)heiligheid, is die grootste klomp snert denkbaar!

Deidré ·

Daar bestaan nie so iets soos heilige mense nie! Net skynheiliges!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.