Gedagte vir die dag:  Daardie verbysterende liefde

prys-God-Stiltetyd-Pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Efesiërs 3:14-21

Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan … (Efesiërs 3:19)

Nee, ons verstaan dit nie. En al bid Paulus so ernstig dat die gelowiges die omvang van Christus se liefde sal begryp, “hoe wyd en ver en hoog en diep” dit strek, kan ons bloot sê: Jammer, ons verstand is te klein.

Paulus probeer sy bes om gelowiges iets van die oorweldigende Christusliefde te laat verstaan: Hy praat in die oortreffende trap, hy gebruik ryk metafore, die sterk uitdrukkings borrel uit sy mond en sy hart. Maar uiteindelik klink sy gebed meer na ’n moedelose sug as ’n vaste oortuiging. Hy ken sy mense …

Boonop, sal ons weet, lyk dit dikwels só: hoe groter die verstand, hoe minder die begrip vir Christus se liefde. Dan klink dit só: Ek is voluit lief vir myself; ek het niemand anders se liefde nodig nie. Dit is dán dat hierdie Jesusuitroep ’n onheilspellende klank verkry: “Ek prys U, Vader … dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het” (Luk 10:21).

Dit lyk dus of Paulus en al die hedendaagse “advokate vir Christusliefde” gerus maar kan ophou probeer. Want diegene wat wel die werklike omvang van die wydte, hoogte en diepte van hierdie liefde kan begryp of bereken, stel nie noodwendig daarin belang om dit te doen nie.

Dit is dikwels die eenvoudiges en die sogenaamde oningeligtes wat dit die beste verstaan. Hulle wat weet hoe afhanklik hulle van hierdie verbysterende groot liefde is – al is dit bloot omdat hulle kan onthou hoe ver daar na hulle gesoek is. En hoe hoog daar gereik en hoe laag daar gebuk is om hulle van hulleself te red. Húlle weet.

Ek weet, Here! En dit maak my baie bly.

Bron:  Uit die Beek 2020 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Yvonne

Dankie genadige Heer vir so n liefde en dat ek dit elke dag van my lewe mag ervaar……dit is vir elkeen wat glo beskikbaar vry en verniet. …my verstand kan dit skaars inneem

werner

So lief het God die aarde gehad dat HY SY ENIGSTE GEBOORTE SEUN gestuur het om vir ons sondes te sterf,en weer opgestaan het uit die dode en opgevaar het na die HEMEL,Dankie Liewe Jesus