Gedagte vir die dag: Doring in die vlees  

 strand_gras_blomme_Nathan_Steyn.jpg

Foto: Nathan Steyn

Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. (2 Kor 12:9)

Wat is jou doring in die vlees? Wat is die een ding waaroor jy al so baie kere op jou knieë was en by God gepleit het vir ’n antwoord? En al wat jy kry, is die gevoel dat jou versoek op dowe ore geval het. God luister nie. Jy sal maar met die doring moet saamleef. Maar dit maak seer. Dis by tye onuitstaanbaar. Hoe hanteer ’n mens so iets?

Dan maak ons die Bybel oop by 2 Korintiërs 12 en ons hoor hoe Paulus vertel van sy doring waarmee hy telkens na die Here toe gegaan het. ’n Mens sou tog verwag dat die Here op Paulus se versoek sou reageer. Hy was tog die ywerige evangelis wat talle mense vir God se koninkryk gewen het. Hy het deur sy gebede soveel ander mense van hulle dorings bevry. Dit kon tog net goed vir die evangeliebediening wees as God sy doring sou wegneem, wat dit ook al was.

Dan kry Paulus tog ’n antwoord van die Here. Die Here sê vir hom dat die doring maar kan bly en dat hy sal ontdek God se genade is genoeg. Dit wil sê deur God se genade sal hy die doring kan verduur. Paulus self meen dat die doring juis daar was sodat hy nie hoogmoedig sou word nie. En dis nogal ’n wesenlike gevaar: wanneer ’n mens se lewe so sonder enige verhindering verloop, raak jy onafhanklik. Jy vergeet dat alles genade is. En met die doring ontdek jy die wonder van genade, raak jy net al hoe meer afhanklik van God.

God se krag kom tot volle werking wanneer jy swak is.

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.