Gedagte vir die dag: God by ons

gebed_stiltetyd_sit_sonsopkoms.jpg

Foto: stylonica.com

Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. (Romeine 8:26)

Jy het gedink jou geloof is sterk genoeg om elke storm in die wêreld te trot­seer. Jy kon ander bemoedig en by ander siekbeddens bid, jy was so sterk. Maar vandag lê jy self teen die kussings, uitgeslaan soos ’n bokser aan die ver­loorkant. Die siekte maak jou swak en afhanklik, jy weet nie of jy gaan oor­leef nie. Jy ken die Here, jy glo in die verlossing deur Jesus, jy is gereed om te gaan – net nie nou nie. Jy het nie woorde om mee te bid nie, jy huil.

Jy het ’n oortrokke rekening wat jy nie verder kan rek nie, jou kontantvloeiprobleem dwing jou om jou firma se boeke te kook met die doel om dit later terug te betaal. Maar dit werk toe nie so uit nie en die ouditeure vlek jou bedrog oop. Almal by die kerk weet nou dat jy ’n dief is. Jy ís, maar jy is ook nog lief vir die Here. Jy kan nie meer bid nie, jy weet nie wat om vir Hom te sê nie, jy oorweeg selfmoord.

Dis in situasies soos hierdie dat ’n mens jou afhanklikheid van God besef. Wanneer jy nie woorde het nie, kan jy jou net oorgee aan die Gees wat in jou woon. Raak stil in God se teenwoordigheid, bly kalm en wag. God het jou lief.

Here, dankie dat ek my kon oorgee aan u liefde, dankie vir die Heilige Gees wat namens my by U pleit. Ek kan nie meer nie, maar nou weet ek: Ek is nie alleen nie.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

ElgeraineR ·

Dankie Here dat ek my kan troos in die wete dat U by my is, in my blydskap maar ook in die storms wat ek langs die pad ondervind. Dankie dat ek kan stil word by U voete, as ek nie meer woorde het nie.

Theuns ·

Dankie vir U Boodskap en dat U ‘n laer om ons trek en ons uit red al is ons sondes en beproewinge ook hoe groot! Ons Prys U Heilige Naam Jesus. Amen!

Retief ·

Dankie vir elke asemteug, elke oogknip, elke hartklop. Elkeen hiervan is ‘n bewys van Sy nabyheid in ons lewe.

Roela ·

Jesus ek besef elke dag hoe afhanklik ek is van U! My Vader dankie dat U my beskerm en U ken my hart.
My Vader sonder U kan ek nie, U liefde en genade is my kosbaarste besitting. Dankie dat U aan die kruis gesterf het v my.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.