Gedagte vir die dag: God gee sy Seun

Kruis_pixgood_com.jpg

Foto: pixgood.com

God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. (Joh 3:16)

Dit is nie sommer maar toevallig dat Johannes 3:16 waarskynlik die bekendste teks in die hele Bybel is nie. Dit vat God se liefde vir mense in ’n neutedop vas: só lief het Hy ons dat Hy die lewe van sy Seun prysgee sodat ons vir altyd kan lewe.

Met Paasfees verwonder ons ons opnuut aan God se liefde vir sondige mensekinders, juig ons weer ’n slag oor die wonder dat Jesus gewillig was om die hemel te verlaat en as ’n gewone mens na die wêreld te kom en aan ’n kruis te sterf sodat ons sonde vergewe kan word.

Die belangrikste eienskap van God is sy liefde. ’n Mens hoef maar net na Jesus aan die kruis te kyk om die omvang van God se liefde vir jou persoonlik te besef: só lief het God die wêreld, só lief het Hy jou dat Hy sy Seun laat sterf sodat jy kan lewe. Maar as jy sy genadeaanbod wil aangryp, is dit noodsaaklik dat jy in Jesus sal glo. Wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie (Joh. 3:18).

Maak seker dat jy hierdie Paasfees jou geloof in Jesus herbevestig.

Here Jesus, ek glo in U. Dankie vir die versekering dat ek nooit verlore sal gaan nie, maar dat die ewige lewe nou reeds myne is. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.