Gedagte vir die dag:  Gou! Nou!

man_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Psalm 70

Red my tog, o God, Here, kom my tog gou te hulp! … moet tog nie talm nie! (Psalm 70:2, 6)

Ses haastige verse. Benoud kreet die digter sy vrese uit. Herhaalde- lik, asof dit sy grootste vrees is dat die Here hom nie hoor nie, sê hy God moet góú help. Hy moet tog nie talm nie.

Ons verstaan iets hiervan. As ons swaarkry, wil ons gehelp word.

Gou. Nou. Die Here moet hoor en Hy moet Hom haas.

Ons is nie goed met wag nie. Ons lees die geliefde Psalm 130 en laat ons troos met die goedheid van God vir hulle wat uit die dieptes roep. Ons luister egter teësinnig hoe daardie roeper sê hy sal wag, “meer as wat die wagte op die môre wag” (Ps 130:6).

Ons maak onsself wys dat ons nie kán wag nie. Ons nood is ons prioriteit, en ons verstaan nie as dit nie ook God s’n is nie.

Wanneer ander mense – medegelowiges, welmenende susters en broers – ons wil troos en dinge sê soos “die Here het sy tyd” en “sy weë is nie ons weë nie”, wil ons skreeu. Ons wil uitroep: Nee! Ek moet gehelp word – gou! Nou!

Dit is reg so. Om aan te dring op God se spoedige verhoring van ons gebede is in orde. Ons kan maar sy aandag vir ons opeis. Ons mág soos kinders begin rondtrippel en sê: Gou! Nie later nie – nou! Dit sal ons wel baat om te onthou wat God se antwoord was toe sy eerste Kind gesoebat het dat die lydensbeker by Hom moet verbygaan (vgl. Mark 14:36). En hoe hierdie Goddelike reaksie sedertdien al sy ander kinders se noodroepe beïnvloed het.

Liewe Vader, U het vir Jesus “nee!” gesê, sodat ons herhaaldelik met “ja!” geseën word. Seën ons ook met die genade om op u goeie tyd te wag.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Annelie ·

Here, dankie dat ons mag vra! Dankie dat ons mag rus by U. Dankie dat ons ook weet dat U altyd betyds is… al is dit soos met Lazarus… 4 dae te laat….
Mag ons in hierdie tyd net nader aan U kom.

Yvonne ·

Here help my om met Geestes oe te kyk en te luister …U tyd is altyd die perfekte tyd…by U my God kom skuil ek weer tot die storm verby is…Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.