Gedagte vir die dag: Moenie bang wees nie

strand_wolke_blomme_NathanSteyn.jpg

Foto: Nathan Steyn

Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red, want soos julle die Egiptenaars nou daar sien, sal julle hulle nooit weer sien nie. Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg. (Eks 14:13-14)

Lees Eksodus 14:10-14

God kies Moses om sy volk uit die slawerny van Egipte te verlos, maar hulle is nog skaars op pad toe is die eerste krisis op hulle. Die Egiptenaars agtervolg hulle sodat hulle hulle letterlik tussen die hamer en die aambeeld bevind. Voor hulle lê die Rietsee en agter hulle is die farao met sy leërmag. Die volk is bang en glad nie gelukkig nie. Hulle reageer tipies: deur vir Moses te blameer. Dit was baie beter om vir die Egiptenaars te werk as om in die woestyn dood te gaan, mor hulle.

Maar Moses kalmeer hulle en verseker hulle dat hulle geen rede tot vrees het nie, omdat die Here vir hulle sal veg. God red inderdaad sy volk deur vir hulle ’n pad deur die see te maak en die Egiptenaars te laat verdrink. Hierdie belofte – dat God vir sy kinders veg – is vandag steeds geldig vir God se kinders. Wanneer jy weer in ’n krisis beland, onthou die twee dinge wat Moses vir die volk sê: “Moenie bang wees nie” en: “Bly gerus maar kalm.” Met God aan jou kant is vrees onnodig. Hy is vandag steeds volkome in staat om jou te help en te red soos Hy dit lank tevore met sy volk gedoen het. Laat staan dus maar die vrees en raak rustig.

Hemelse Vader, ek loof U dat U my steeds uit gevaarsituasies kan red. Maak dit asseblief vir my moontlik om my vrees vir vertroue om te ruil en kalm te bly, omdat ek weet dat U my sal help. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ella ·

Dankie Here, dat na my gebed vanoggend van moedeloosheid, vrees vir die omstandighede, handdoek wil ingooi, dat U so wonderlik tot my spreek en my kalm maak en bevestig dat U in beheer is. Amen.

stoffel ·

Dankie ons Pappa Vader dat U met ons is en dat U ons nie alleen of agter sal laat nie,U wat ons aangeneem het as U eie in Ps 27 toe ons moeder en vader ons verlaat het,U wat sorg en elke oomblik met ons is ,Dank ek U ,vir Jesus wat met Sy bloed vir ons sonde betaal het ,daar op die kruis op Golgota,alles net vir my en jou,dankbaar is ek dat ek weet dat my Pappa Vader leef en sit aan die regterhand van die Allerhoogste ,tot op die dag Hy weer op die wolke sal kom ,so wil ek vashou aan my geloof in Jesus Christus,die een wat was ,en is en weer sal kom.

Gina Slabbert ·

Dankie Jesus dat U ons dra as ons nie meer kan loop nie, Here ek bid vir ons land se probleme, U ken elke gebed voordat ons vier iets vra. Die lewe is nie meer maklik vir almal nie. Ek bid vandag vir elke een wat om hulp vra. U weet beter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.