Gedagte vir die dag: Vandag

hart_klip_hand_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Hebreërs 3:7–4:11

Maar solank daar nog ’n “vandag” is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie. (Hebreërs 3:13)

Die Hebreërsskrywer is steeds besig om ten bate van sy Joodse volksgenote die waarheid van die Jesusverhaal aan die waarheid van hul volksgeskiedenis te koppel. Hier het hy dit oor die destydse woestyntrekkers, oor hul opstandigheid.

Ons ken dit alles so goed: al die stories oor die Here wat by Homself sweer dat Hy hulle vanweë hul volgehoue hardkoppigheid sal uitdelg. Net om daarna van plan te verander, omdat Hy hulle té liefhet.

Nou waarsku die skrywer sy lesers: Moenie maak soos jul voor- vaders gemaak het nie. Moenie in dieselfde strik as hulle trap nie. Moenie van God afvallig word nie. Spoor mekaar aan, elke dag, om getrou te bly. Goddank, daar ís nog kans om weg te draai van jou eie dom keuses. Daar is nog ’n “vandag” om reg te maak.

Wie sê daar sal ’n “môre” wees? Al kom die son wel vir jou op, wie sê jy gaan tyd kry, of lus wees, of die krag hê om reg te maak? En, jy weet mos, as jy een keer drooggemaak het, kom die tweede keer makliker …

Help mekaar dan! spoor die skrywer sy lesers aan. Probeer verhoed dat jou medegelowiges die sonde se misleiding as “die nuwe normaal” begin beleef. Dat hulle gewoond raak aan verkeerd doen. Help hulle soos jy gehelp sal wil word: sonder beterweterigheid. Doen dit daagliks, sonder om te veroordeel. Luister mooi. Stel belang. Vra uit. Simpatiseer.

Kortom: Wees ’n naaste, soos jy wil hê hy of sy ’n naaste vir jou moet wees.

Liewe Heer, dankie vir vandag. Dankie vir nog ’n kans. Ek het U gehoor.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.